|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Carter terug op veld
09/05/2008 09:57:31 AM - (SA)
WELLINGTON (Nieu-Seeland). – ’n Voltal-punte is vanoggend hier in die Nieu-Seelandse hoofstad die Hurricanes se enigste mikpunt in hul Super14-rugbywedstryd teen die Western Force.
Die Hurricanes durf die voorlaaste naweek in die ligafase van die reeks in die derde plek op die puntelys aan.
Hulle kan tot die tweede plek opskuif as hulle ’n voltal teen die Force behaal én die Stormers môre met die Waratahs afreken sonder om ’n bonuspunt te kry.
Die Hurricanes is nou derde met 36 punte. Dit is een punt meer as die Stormers in die vierde plek en een agter die Waratahs in die tweede plek.
Hoewel die Force verlede naweek ’n naelbytsege oor die Chiefs in Perth behaal het, speel die Hurricanes tuis en is daar vir hulle soveel meer op die spel.
Nóg twee sleutelwedstryde vind môre in Australasië plaas.
Die Highlanders, wat hul Suid-Afrikaanse toer verlede naweek met ’n oorwinning oor die Cheetahs afgesluit het, kom in Dunedin teen die Blues te staan.
Die tuisspan is glad nie in die wedloop om halfeindplekke nie, maar die Blues kan met voltalle in hul laaste twee wedstryde steeds onder die boonste vier spanne eindig.
Die Blues is ná hul oorwinning oor die Reds verlede naweek sewende op die puntelys (31). Hulle is net een punt agter die Sharks in die sesde plek.
Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is dit dus belangrik dat Carisbrook sy bynaam as die House of Pain gestand doen, sodat die Blues bloed sal sweet om net te wen, om nie te praat van vier drieë druk nie.
Die opwindendste aspek van die wedstryd tussen die Crusaders en Reds in Brisbane is die langverwagte terugkeer van die All Black-losskakel Daniel Carter. Hy was lank weens ’n beenbesering buite aksie en sal sy terugkeer van die plaasvervangerbank maak.
Die Crusaders is met hul 47 punte en die eerste plek reeds verseker van ’n tuiswedstryd in die halfeindronde.
Die Crusaders is 10 punte voor die Waratahs wat beteken dat hulle net ’n bonuspunt nodig het om seker te maak van die eerste plek.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |