|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Sharks verklap aanvallende plan
09/05/2008 09:57:32 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Adrian Jacobs is vir die eerste keer dié seisoen in die Sharks se beginspan, Bismarck du Plessis is terug op haker en soos verwag skud Johan Ackermann môre teen die Cheetahs die spinnerakke af.
Jacobs se insluiting op buitesenter in môre se belangrike Super14-rugbywedstryd in die plek van Waylon Murray, sê baie van die Sharks se voorneme vir dié derby.
Die Sharks moet wen en minstens vier drieë druk om hul aanspraak in vanjaar se reeks in die waaksaal aan die lewe te hou.
Jacobs word deur die span se afrigter, Dick Muir, as uitsluitlik ’n impakspeler beskou en is vanjaar maar spaarsaam gebruik.
Dié veelsydige Springbok se knap balverspreiding en vermoë om uit verdedigers se kloue te bly, word nou as karaktertrekke erken wat die Sharks dalk ’n plek in die halfeindrond kan besorg.
Waar Murray reguit hardloop in die hoop dat sy momentum hom oor die voordeellyn sal kry, soek Jacobs die gaping waarby dié om hom baat.
Voorlangs is die terugkeer van Du Plessis ’n groot hupstoot, maar die verlies van Johann Muller ’n knou.
Muller moes die stryd om betyds van sy kuitspier-besering te herstel gewonne gee.
Ackermann mag dalk nie heeltemal wedstrydfiks wees nie, maar sy ervaring sal vir iets tel voordat hy na verwagting in die tweede helfte vir Steven Sykes sal moet plek maak.
AJ Venter neem in Muller se plek as kaptein waar.
Die span is: Stefan Terblanche, Odwa Ndungane, Adrian Jacobs, Francois Steyn, JP Pietersen, Ruan Pienaar, Rory Kockott, Ryan Kankowski, AJ Venter (k), Jacques Botes, Johan Ackermann, Albert van den Berg, Brendon Botha, Bismarck du Plessis, Tendai Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Jannie du Plessis, Steven Sykes, Jean Deysel, Keegan Daniel, Bradley Barritt, Waylon Murray.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |