|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Fourie brand om weer te speel
09/05/2008 09:57:34 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Jaque Fourie kan nie wag om môremiddag op Ellispark losgelaat te word in die Lions se Super14-rugbywedstryd teen die Chiefs nie.
Dit sal dié Springbok-buitesenter se eerste verskyning in vanjaar se reeks wees nadat hy ná verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk ’n klein operasie ondergaan het vir ’n besering wat hom in dié toernooi gepla het.
Hy het verlede maand eers teruggekeer toe hy as plaasvervanger vir die Leeus in die kwarteindronde van die Vodacombeker-reeks teen die Blou Bulle gespeel het.
“Ek het 55 minute lank heelagter gespeel. Alles het goed gegaan. Ek het ná sowat 30 minute ’n bietjie begin blaas omdat ek lanklaas gespeel het.
“Ek is egter heeltemal reg en het geen nagevolge van die besering en die operasie nie. Ek is baie opgewonde om weer Super14-rugby te speel en sien baie uit na die kragmeting met die Chiefs,” het Fourie gister gesê.
Hoewel een swaeltjie nie ’n somer maak nie, sal Fourie se ervaring en vermoëns as ’n spelbreker baie vir die Lions beteken. Die spelers aan sy binne- en buitekant kan baat vind en sy ongenaakbare verdediging in die middelveld is ook ’n groot pluspunt.
“Die Chiefs is ’n goeie en onvoorspelbare span. Hulle het ’n gevaarlike agterste driehoek en hul agttal is ook goed,” het Fourie gesê.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |