|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Hawies waarsku Cheetahs teen dié duo
08/05/2008 05:13:11 PM - (SA)
BLOEMFONTEIN. – Die bedreiging wat die Sharks se Ryan Kankowski (agtsteman) en Rory Kockott (skrumskakel) inhou, is een waarop die Cheetahs moet ag slaan voor dié spanne se kragmeting Saterdag in die Super14-rugbyreeks in Durban.
Dié duo was vanjaar onder die Sharks se voorste spelers en van die min uitblinkers in hul laaste drie wedstryde wat hulle in Australasië verloor het.
Hawies Fourie, die Cheetahs se agterlyn-afrigter, meen Kockott en Kankowski is as kombinasie agter die skrum ’n gevaar.
“Ons sal ongetwyfeld vir Kankowski probeer hokslaan. Kockott speel ook goeie rugby.
“Die Sharks speel veral goeie rugby wanneer hulle die bal agter losskrums optel en speel. Hulle kry op dié manier hul agterspelers op die voorvoet om aan te val,” het Fourie gesê.
Fourie glo verskeie tweestryde sal die wedstryd nog meer interessant maak en het gesê die Cheetahs sal ’n spanpoging moet lewer as hulle die Sharks wil klop.
“Teen die Highlanders het ons byvoorbeeld as individue goed gespeel, maar as ’n span swak vertoon. Die Sharks se verdediging is baie goed,” het hy gesê.
Die KwaZulu-Natallers sal wil verhoed dat dieselfde teëspoed hul tref as toe hulle die Cheetahs laas in Durban in 2006 in ’n Super14-kragmeting ontmoet het.
Die Cheetahs het toe hul eerste Super14-oorwinning behaal toe hulle die Sharks in bedompige toestande met 27-26 geklop het.
Die Sharks se seisoen het die laaste paar weke ’n afwaartse kurwe begin neem en ’n nederlaag teen die Cheetahs kan hul halfeindronde-drome in die wiele ry.
Die Cheetahs het egter ook hul laaste drie wedstryde verloor en was boonop nog net een keer vanjaar aan die wenkant.
Ligte beserings aan Juan Smith (flank), Heinrich Brüssow (flank) en Jongi Nokwe (vleuel) het gister verhoed dat die volledige span saam kon oefen.
Hoewel Frans Viljoen en Hendro Scholtz as flanke waargeneem het en Hendrik Meyer op linkervleuel geoefen het, is Naka Drotské, Cheetah-breier, nie van plan om aan die 22-tal te torring nie.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |