|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Ackerman weer in die ‘oond’
08/05/2008 05:13:17 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Toe Johan Ackermann die “laaste” keer in ’n Sharks-trui uitgedraf het, het dié rugbyspan soos ware aanspraakmakers op die Super14-kroon gelyk.
Dit voel byna soos ’n leeftyd gelede toe die Sharks die Bulls vroeër vanjaar met 29-15 afgeransel het en boonop vier drieë in ’n wedstryd kon druk.
Ackermann (37) het ná dié wedstryd uitgetree, maar so dun is dié Durbanse span op slot gesaai dat die gewese Springbok-slot hom Saterdag weer in die middel van die oond teen die Cheetahs kan bevind.
Ackermann is nader getrek omdat die Sharks se kaptein, Johann Muller, net ’n kans van 30 persent gegun word om die span te lei. Nóg ’n slot, Steven Sykes, herstel ook van ’n besering.
Ackermann is deel van ’n groep van 25 spelers wat vir die wedstryd aangewys is.
Muller, Sykes, die haker Bismarck du Plessis en die senter Brad Barritt, wat almal onder die beseerdes tel, is in die groep ingesluit.
Die Sharks, wat Saterdag moet wen en boonop ’n tros drieë moet druk om hul aanspraak in die reeks te behou, gaan klippe kou as hulle dieselfde vertoning lewer as wat hulle op hul Australasiese toer opgedis het.
Die span se afrigter, Dick Muir, glo die Sharks is nie die enigste span wat vanjaar gesukkel het om die doellyn oor te steek nie.
“Wanneer jy na die ander spanne kyk, is daar nie ’n agterlyn wat bestendig was nie. In ons geval is die agterlyn taamlik rondgeskuif, maar dit is geen verskoning vir die gebrek aan drieë nie,” het Muir aan sharksrugby.co.za gesê.
Ackermann het gister erken hy het nie eintlik die deur ná sy uittrede toegeklap nie.
“Aan die einde van verlede jaar se Curriebeker-reeks is ek gevra wanneer ek sou uittree.
“Ek het toe gesê dat ek 90 persent seker is dat ek gaan uittree. Ek het 10 persent oopgelaat.”
Dié ysterslot het in Kaapstad redelik fiks gebly deur ’n paar keer vir Hamiltons klubrugby te speel.
Die Sharks-groep is:
Voorspelers: Beast Mtawarira, Deon Carstens, Craig Burden, Bismarck du Plessis, BJ Botha, Jannie du Plessis, Johann Muller, Albert van den Berg, Steven Sykes, Johan Ackermann, Jacques Botes, Keegan Daniel, AJ Venter, Jean Deysel, Ryan Kankowski. Agterspelers: Rory Kockott, Ruan Pienaar, JP Pietersen, Waylon Murray, Bradley Barritt, Adi Jacobs, Francois Steyn, Odwa Ndungane, Henno Mentz, Stefan Terblanche.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |