|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Dramatiese sege vir Force
05/05/2008 08:54:09 AM - (SA)
PERTH. – Die Western Force se rugbyspan het met sy dramatiese oorwinning oor die Chiefs ’n groot klip uit die halfeindronde-pad van veral die Stormers gerol.
Die Force het hul sege eergister hier met 22-21 in beseringstyd met ’n strafdoel deur Matt Giteau beklink.
Vir die Chiefs was dit hartverskeurend, want ’n oorwinning sou hulle na die vierde plek op die Super14-puntelys laat opskuif het. Nou is hulle vyfde.
Die Chiefs het juis skitterend teruggeveg nadat dit wou lyk of die Force maklik sou wen. Die besoekers het ’n swak eerste helfte gehad en was met die rustyd met 3-14 agter.
’n Opwindende tweede helfte, wat drie pragdrieë opgelewer het, het in die 75ste minuut breekpunt bereik toe Callum Bruce die Chiefs die eerste keer met ’n skepdoel laat voorloop het (21-19).
Die wedstryd het nog meer dramaties geëindig toe die Force se “wendrie” nie deur die TV-skeidsregter toegeken is nie en die spel met ’n strafskop aan die tuisspan hervat is. Giteau het die nodige gedoen om aan sy span net die tweede oorwinning in sy laaste vyf wedstryde te besorg.
Die Force pak Vrydag die Hurricanes.
Puntemakers: WESTERN FORCE 22 (14) – Drieë: Matt Hodgson, Drew Mitchell, James Stannard. Doelskoppe: Matt Giteau (2). Strafdoel: Giteau. CHIEFS 21 (3) – Drieë: Lelia Masaga, Stephen Donald. Doelskop: Donald. Strafdoel: Donald (2). Skepdoel: Callum Bruce. – AAP
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |