|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Pieter het McCaw se oog getref
01/05/2008 10:22:11 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Richie McCaw, kaptein van die Crusaders en All Black-rugbyspanne, is geensins verbaas nie dat die Stormers herstel het van hul wankelrige begin in vanjaar se Super14-rugbyreeks.
En, sê McCaw, die Stormers het die diepte onder hul losvoorspelers om die verlies van Schalk Burger te bowe te kom.
Luke Watson draf môre op die flank uit, met die groentjie Pieter Myburgh op die bank vir die wedstryd teen die Brumbies op Nuweland.
McCaw en Myburgh was vroeër vanjaar op Nuweland slaags ná Burger se skorsing en Watson se onttrekking weens griep.
“Pieter was nie ’n ou van wie ons enigiets geweet het voor daardie wedstryd nie, maar hy het nie lank geneem om ons te wys wat in hom steek nie,” het McCaw eksklusief per e-pos deur die Crusaders se media-skakelbeampte, Matt McIlraith, aan Die Burger gesê.
“Hy was daardie aand die verpersoonliking van die Stormers se benadering. Hulle is vooraf deur almal afgeskryf, maar het met ’n groot aanslag gekom en vir alles baklei.
“Selfs al het ons met 22-0 gewen, het ons en die Stormers albei goed gespeel.
“Niemand by die Crusaders is verbaas oor hoe goed die Stormers sedertdien gevaar het nie.”
Myburgh sal na verwagting in die tweede helfte ’n rol hê om te vertolk in môre se stryd teen die Brumbies. Hy kan dan die geleentheid kry om hom teen die Wallaby-baljagter, George Smith, te meet.
“Pieter is dalk ’n jong ou, maar hy was beslis nie geïntimideer deur ons nie,” het McCaw gesê.
“Sy grondspel was baie goed en baie van ons het later opgemerk dat hy sterker en meer fisiek was as wat ’n mens van ’n jong ou in sy eerste groot wedstryd sou verwag. Hy kan ’n bietjie speel . . . dis vir seker.
“Die Stormers sal sonder twyfel vir Schalk mis, want hy is een van die beste spelers in die wêreld, maar Pieter sal goed vaar indien hy die geleentheid kry.
“Op grond van wat ek ervaar het, sal ek beslis nie vir Pieter onderskat nie.”
McIlraith het McCaw genader om oor Myburgh kommentaar te lewer.
McIlraith het ná die Crusaders se oorwinning in die Kaap informeel aan Die Burger gesê Myburgh het McCaw beïndruk.
Sedert daardie nederlaag het die Stormers ses van hul laaste sewe wedstryde gewen. Die nederlaag was ’n ongelukkige een van 14-17 teen die Blues op Eden Park in Auckland.
. Intussen het die Brumbies se afrigter, Laurie Fisher, vyf voorspelers op sy plaasvervangerbank gekies vir die stryd teen die Stormers.
Daar is ’n verrassing in die voorry, met Salesi Ma’afu wat Guy Shepherdson op vaskop vervang. Shepherdson is onder die plaasvervangers.
“Die Stormers se vaste fasette is baie goed. Ons het vandeesweek baie aandag aan ons lynstane en skrums gegee,” het Fisher gesê.
Die Brumbies-span is: Mark Gerrard, Adam Ashley-Cooper, Stirling Mortlock (k), Tyrone Smith, Francis Fainifo, Christian Lealiifano, Patrick Phibbs, Julian Salvi, George Smith, Stephen Hoiles, Mark Chisholm, Alister Campbell, Salesi Ma’afu, Saia Faingaa, Nic Henderson. PLAASVERVANGERS: John Ulugia, Guy Shepherdson, Peter Kimlin, Ben Alexander, Mitchell Chapman, Joshua Holmes, Afusipa Taumoepeau.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |