|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Blues se breier bedank
01/05/2008 10:21:53 PM - (SA)
BRISBANE. – Die Blues speel vandag hier die laaste keer (teen die Reds) onder David Nucifora as afrigter in ’n Super14-rugbywedstryd op Australiese bodem.
Nucifora, ’n Australiër, het gister gesê hy het ná drie jaar as breier van die Blues besluit om na sy geboorteland terug te keer.
“My kinders moet eersdaags hoërskool toe gaan en dit was in die gesin se belang om nou die tuig by Blues neer te lê waar ek die laaste drie jaar die genotsvolste tydperk van my loopbaan as afrigter beleef het,” het Nucifora gister gesê.
Nucifora, onder wie se afrigterskap die Brumbies die Super12-reeks in 2004 gewen het, het bevestig hy het samesprekings met die Australiese Rugbyunie (ARU) oor die vakante pos van hoëprestasie-bestuurder gevoer.
“Ek kan egter bevestig dat ek op die oomblik geen ander betrekking aanvaar het en beslis nie daarin belanggestel om enige ander Super14-span af te rig nie,” het Nucifora bygevoeg.
Die nuus oor Nucifora kan dalk net die inspuiting wees wat die Blues nodig het om ’n slag weer vlam te vat.
Die Aucklanders het teleurstellende vertonings in hul laaste vier wedstryde gelewer en daarmee na die agtste plek op die puntelys afgesak.
Die Blues se oorblywende wedstryde in die ligafase van die reeks is teen die Highlanders in Dunedin en die Hurricanes in Auckland.
Die Reds is nog slegter daaraan toe as die besoekers, want hul 16 punte ná 10 wedstryde is net goed genoeg vir die 10de plek.
Die Reds se laaste drie wedstryde is egter almal tuis en hulle kan die halfeindronde-kaarte veral in die laaste twee, teen die Crusaders en Waratahs, deurmekaar krap.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |