|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Sharks-spelgrafiek moet boontoe mik
01/05/2008 10:22:12 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Die laaste keer toe die Sharks in Nieu-Seeland met die rugbyspan van die Crusaders kragte gemeet het, het ’n Dan Carter-skepdoel die tuisspan se bas in Timaru gered.
Die Crusaders het net-net met 22-20 gewen, maar dit is die Sharks se besoek wat dié een voorafgegaan het, wat straks in hul geheue vasgebrand het.
Die Sharks het in 2005 met 77-34 slae gekry, maar mens moet ook vinnig bysê Kevin Putt se Sharks het toe laaste op die puntelys geëindig.
So droewig gaan dit vanjaar gelukkig nie met Dick Muir se span nie. As die Sharks die loesing van 2005 vandag teen die Crusaders wil vryspring, kan hulle nie bekostig om met die afwaartse kurwe voort te gaan wat hulle vertonings in die laaste paar wedstryde gekenmerk het nie.
Die Sharks is tot aansienlik beter in staat as wat hulle die laaste paar weke opgedis het. Hoewel hul kaarte deur beserings deurmekaar gekrap is, is dít ’n probleem wat alle Super14-spanne die een of ander tyd in die gesig moet staar.
Dit is veral die venyn waarmee hulle aan die begin van die reeks voorlangs ingeklim het, wat nog nie op toer ten volle uitgestal is nie. Die agtsteman Ryan Kankowski blink steeds in die los uit, maar behalwe miskien vir hul vertoning in die eerste wedstryd teen die Brumbies het die Sharks se pak nog nie op toer gesag afgedwing nie.
Vandag moet hulle boonop sonder die sterk inklim- en dryfspel van die haker Bismarck du Plessis klaarkom teen ’n span wat ongenaakbaar voorlangs is.
Daar gaan dus baie druk op die haker, Craig Burden, wees om minstens die Sharks se suiwer lynstaanspel voort te sit.
Die Crusaders het juis verlede week die Blues se wankelrige lynstaanspel uitgebuit. As hulle besit van die Sharks in dié belangrike vaste afdeling van die spel afneem, sal die Sharks baie duikslae moet doen.
Met Johann Muller, Albert van den Berg, AJ Venter en Kankowski as lynstaankeuses, behoort Burden egter genoeg teikens te hê om na te gooi.
Die Sharks het ’n groot hupstoot gekry met die nuus dat Muller reg is om die Sharks aan te voer.
Hy kon weens ’n kuitspier nie verlede naweek teen die Waratahs speel nie. Hy het gister ’n fiksheidstoets geslaag. AJ Venter sal flank speel met Jean Deysel een van die plaasvervangers.
Agterlangs sal Ruan Pienaar, wat op losskakel ingespan gaan word, die soort spel moet lewer wat van hom ’n Springbok gemaak het.
Pienaar se spelpeil vanjaar was nie soseer vrot nie, maar daar word so baie van hom verwag dat enigiets kort van sy briljante beste, ’n mens laat frons.
Daar is juis mense wat glo hy hoort eintlik op losskakel. Die geleentheid om hulle reg te bewys, kan seker nie op ’n beter tyd gekom gekom het nie.
Die spanne is:
Crusaders: Leon MacDonald, Kade Poki, Casey Laulala, Tim Bateman, Sean Maitland, Stephen Brett, Andrew Ellis, Nasi Manu, Richie McCaw, (k), Kieran Read, Ali Williams, Brad Thorn, Greg Somerville, Corey Flynn, Ben Franks. PLAASVERVANGERS: Ti’i Paulo, Wyatt Crockett, Ross Filipo, Mose Tuiali’i, Kahn Fotuali’i, Hamish Gard, Caleb Ralph
Sharks: Stefan Terblanche, Odwa Ndungane, Waylon Murray, Francois Steyn, JP Pietersen, Ruan Pienaar, Rory Kockott, Ryan Kankowski, AJ Venter, Jacques Botes, Johann Muller (k), Albert van den Berg, BJ Botha, Craig Burden, Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Skipper Badenhorst, Jannie du Plessis, Jean Deysel, Keegan Daniel, Andries Strauss, Henno Mentz, Adrian Jacobs.
Skeidsregter: Stuart Dickinson (Aus).
Afskop: 09:35 (SA tyd).
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |