|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Blitsbesoek aan Pretoria
29/04/2008 10:59:44 AM - (SA)
PRETORIA. – Die Waratahs lui vandeesweek ’n nuwe tydvak in Super14-rugby in deurdat hulle eers twee dae voor Saterdag se wedstryd teen die Bulls op Loftus Versfeld in Suid-Afrika aankom.
Ewen McKenzie, afrigter van dié span van Nieu-Suid-Wallis, het aan AAP gesê daar is reeds ses maande gelede besluit om feitlik al die voorbereiding vir die eerste van twee toerwedstryde in Suid-Afrika op Australiese bodem te doen.
Hulle het by die Socceroos gaan kers opsteek. Australië se nasionale sokkerspan doen feitlik al sy voorbereiding vir oorsese toetse op plaaslike bodem.
Die Waratahs vertrek eers Donderdag uit Sydney en sal net Vrydag se kapteinsoefening op Loftus hou.
Dit is die algemene gebruik van spanne wat na Suid-Afrika reis, om die dag ná hul laaste wedstryd hierheen te vertrek.
Hoewel baie Suid-Afrikaanse spanne dit verkies om in Australië vir wedstryde in Nieu-Seeland voor te berei, is die vliegtyd tussen dié twee lande selde langer as drie uur.
Daarenteen sal dit die Waratahs minstens 14 uur neem om van Sydney af na Johannesburg te vlieg.
Volgens McKenzie het hy en sy bestuurspan vir alle moontlike veranderlikes voorsiening gemaak.
Wanneer die Waratahs Donderdagoggend om 10:00 uit Sydney na Johannesburg vertrek, is dit 02:00 in Suid-Afrika.
“Ons opdrag aan die spelers is om onmiddellik ná ons opstyg te slaap sodat hulle aan Suid-Afrikaanse tyd gewoond kan raak.
“Ons het met die vlugpersoneel ooreengekom om net een ete tydens die vlug te bedien.
“En dit is ontbyt wanneer die spelers reeds hul eerste ‘Suid-Afrikaanse nag’ agter die rug het.
“Die truuk is om die versoeking te weerstaan om die een rolprent ná die ander te kyk, maar eerder dadelik te slaap,” meen McKenzie.
Volgens hom is die Waratahs ná die oorwinning oor die Sharks só naby aan halfeindronde-status dat ’n sege oor die Bulls ononderhandelbaar is.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |