|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Nóg slegte nuus vir beleërde Sharks
29/04/2008 10:59:49 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Dit is waarskynlik die laaste ding wat die gewonde Sharks-rugbyspan uit die Crusaders-afrigter Robbie Deans se mond wou hoor.
Volgens Deans gaan die Crusaders nie hul krygerinstinkte vir die uitspeelrondes bêre nie. Hy het dit baie duidelik gemaak dat sy span, wat ’n gerieflike voorsprong bo-aan die Super14-puntelys geniet, dit geensins oorweeg om sy voet van die versneller te haal nie.
Die Crusaders speel Vrydag in Christchurch teen die Sharks. Daarna volg die Reds en die Highlanders en ’n mens kan hulle verskoon as hulle reeds aan die uitspeelrondes begin dink het.
“Ons is soos al die ander spanne in dieselfde wedloop om ’n plek in die uitspeelrondes. Daar is geen waarborg nie,” het Deans aan The Press in Christchurch gesê.
Die Sharks is ná hul agtereenvolgende nederlae teen die Brumbies en die Waratahs met die rug teen die muur en hulle kan nie bekostig om met leë hande uit Nieu-Seeland huis toe te keer nie.
Die verlies van die Sharks se losskakel en spelskepper, Frederic Michalak, is ’n ontydige slag, maar Deans glo nie dit gaan die besoekers te nadelig beïnvloed nie.
“Dit verander nie werklik enigiets nie. Dit is ’n terugslag, maar hulle sal iemand kry wat sy skoene kan vol staan.”
Die moontlikheid bestaan ook dat die Sharks weer sonder hul slot en kaptein, Johann Muller, moet klaarkom. Muller, wat nie teen die Waratahs gespeel het nie, sukkel met ’n kuitspierbesering en kan dalk weer ’n ruskans gegee word.
Die Crusaders sukkel ook met ’n paar beserings. Die All Blacks-losskakel Daniel Carter gaan waarskynlik eers in die uitspeelrondes speel nadat hy verlede maand sy enkel erg geswik het.
Die flank Reuben Thorne se Super14-reeks is ook verby en die agtsteman Mose Tuiali’i het ’n dyspierbesering in Vrydag se wedstryd teen die Blues opgedoen.
Die Crusaders sal weer die buitesenter Casey Laulala kan gebruik. Laulala het harsingskudding teen die Chiefs opgedoen en is nie vir die wedstryd teen die Blues oorweeg nie.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |