|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die Stormers-haker Tiaan Liebenberg het sy teenstanders én die kantlyn net-net geklop vir sy span se eerste drie in Saterdag se Super14-rugbywedstryd teen die Highlanders op NuwelandFoto: GALLO IMAGES
Super14
Stormers dra SA vaandel
28/04/2008 11:18:37 AM - (SA)
KAAPSTAD. – Die Stormers lyk ondanks Schalk Burger se besering na Suid-Afrika se beste hoop om in vanjaar se Super14-rugbyreeks vir die halfeindronde te kwalifiseer.
Hoewel die Sharks derde is, speel hulle Vrydag teen die Crusaders, wat bo-aan die punteleer is en hul eerste plek wil verstewig.
Die Sharks kan die komende naweek uit die top-vier op die puntelys glip, met die Chiefs, Hurricanes en Stormers wat almal dreig om hulle verby te steek.
Slegs een punt skei die derde en sesde plek, wat tans deur die Stormers beklee word.
Die Stormers het Saterdag ’n bonuspunt vir vier drieë misgeloop, maar is in die gunstige posisie dat hulle lot hoofsaaklik in hul eie hande is.
Solank hulle aanhou wen – teen die Brumbies en Waratahs op Nuweland, en teen die Lions op Ellispark – behoort hulle vir ’n halfeindstryd te kwalifiseer.
Die Bulls kan die Stormers ook baie help deur die Waratahs Saterdag op Loftus te klop.
Dit kan beteken dat die wedstryd tussen die Stormers en Waratahs op 10 Mei grootliks sal bepaal of ’n halfeindstryd op Nuweland gespeel sal word.
“Dit sal vir enige span moeilik wees om die Stormers op hul tuisveld te klop,” het die Highlanders se kaptein, Craig Newby, Saterdagaand ná sy span se nederlaag met 16-26 op Nuweland gesê.
“Ons was nooit van plan om soos ’n lam ter slagting gelei te word nie.
“Ek dink die Stormers sal selfvertroue put uit hul oorwinning teen ons en die halfeindronde haal.”
Vir die Sharks is die positiewe vooruitsigte dat hul laaste twee wedstryde teen die Cheetahs en Chiefs albei in Durban sal wees.
Nietemin het die Sharks in Saterdag se nederlaag met 10-25 teen die Waratahs glad nie oortuig nie.
Hul afrigter, Dick Muir, se nasionale ambisies bemoeilik ook die situasie. Hoewel dit nie sy skuld is dat hy waarskynlik een van die Springbokspan se hulpafrigters sal wees nie, wys die geskiedenis dat ’n span se spelpeil daal wanneer hul breier op die punt is om sy heil elders te gaan soek.
Dit het met die Sharks gebeur toe Rudolf Straeuli destyds as Bok-breier aangestel is.
Suid-Afrika het dus twee aanspraakmakers vir die halfeindstryd, maar die kans dat die Stormers en Sharks albei uit die bus kan val, kan nie buite rekening gelaat word nie.
“Dis spesiaal om voor soveel mense te speel en wanneer Kaapstad ’n lekker atmosfeer soos dié het,” het die Stormers se afrigter, Rassie Erasmus, gesê.
“Ons skep ons eie verwagtinge. Ons wil daardie golf ry,” het Erasmus, gesê.
“As daardie elders in Suid-Afrika óók verwagtings oor die Stormers posvat, sal dit lekker wees.
“Ons is nou gewoond aan die druk. Daar was ná die eerste twee rondes geweldig baie druk en ons sal dit dus kan verwerk.”
Beserings is egter besig om sy tol van die Stormers te eis. Burger sal die res van die Super14-reeks misloop, terwyl die vleuel Tonderai Chavhanga na verwagting eers vir die halfeindronde weer fiks sal wees.
Die loskopstut JD Moller het ook onlangs ’n skouerbesering opgedoen.
Die besering aan Burger is ’n geweldige terugslag.
Hoewel die Stormers oor baie diepte onder hul losvoorspelers beskik, is Burger in ’n klas van sy eie en ontneem die besering hulle van aansienlike internasionale ervaring.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |