|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
Muir hou moed ná Sharks wéér kleitrap
28/04/2008 11:18:41 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Die Sharks se Super14-rugbyveldtog rafel vinnig uit en die geleentheid om die gate toe te stop, gaan hom nie vandeesweek in Christchurch teen die Crusaders voordoen nie.
Die Sharks se afrigter, Dick Muir, sien egter dinge in ’n ander lig en glo sy span kan ’n allemintige verassing lewer.
“Twee jaar gelede het ons ook hierheen (Sydney) gekom en verloor en die volgende week gewen. Baie spelers in die groep was al aan die verloorkant waarna almal hulle afgeskryf het,” het Muir aan die webwerf sharksrugby.co.za gesê.
“Om teen ’n kampioenspan soos die Crusaders in Christchurch te speel, bied ons die perfekte geleentheid om weer op die wenpad te kom,” het Muir gesê nadat sy span Saterdag in Sydney met 25-10 deur die Waratahs getroef is.
“Daar is baie karakter in ons span en dit is wonderlik om jou teen die beste span in die reeks te meet,” het Muir gesê.
Maar soos die Sharks teen die Waratahs gespeel het, is dit baie onwaarskynlik dat ’n oorwinning oor die Crusaders wink.
Hoewel die Waratahs en die Sharks in die eerste helfte kleigetrap het, het die tuisspan die bal met lus in die tweede helfte rondgegooi.
Die beserings wat die Sharks-kaptein, Johann Muller (kuitspier kort voor die wedstryd), en die losskakel Frederic Michalak (knieligamante) opgedoen het, was ontwrigtend, maar Muir wou dít nie as ’n verskoning aanbied nie.
“Ons is ’n talentvolle groep en ons berei ons vir sulke dinge voor. Ons sal nie agter dit skuil nie.”
Muir wou nie sy span se skete uitwys nie, maar het wel die Waratahs se vertoning geloof.
“Die Waratahs verdien baie lof. Hulle het puik rugby (in die tweede helfte) gespeel. Die Waratahs het hul besit behou en gewys van watter stoffasie hulle gemaak is,” het Muir gesê.
“Dis veral by die afbreekpunte waar hulle so goed was. Hulle het ons geboelie en besit omgekeer. Ons het ’n paar kanse gehad, maar hul verdediging was rotsvas,” het Muir gesê.
Die Sharks-breier sal tog bekommerd wees dat sy span dit moeilik gevind het om bresse in die aanval te slaan.
Teen die Crusaders gaan dit geensins makliker wees nie en die Sharks se kanse om ’n halfeindstryd aan te bied, hang aan ’n dun draadjie.
Om die waarheid te sê, hul vooruitsig om een van die reisende spanne in die halfeindstryd te wees, is ook in die gedrang.
Puntemakers:
WARATAHS 25 (3) – Drieë: Wycliff Palu (2), Sam Carter, Sam Norton-Knight. Doelskop: Kurtley Beale. Strafdoel: Lote Tuqiri.
SHARKS 10 (3) – Drie: Odwa Ndungane. Doelskop: Ruan Pienaar. Strafdoel: Francois Steyn.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |