|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Super14
‘Michalak sou in CB speel’
28/04/2008 11:18:39 AM - (SA)
JOHANNESBURG. – Dit was nie net die nederlaag met 10-25 teen die Waratahs wat ’n bitter smaak in die mond van die Sharks in Sydney gelaat het nie.
Die gewonde Sharks moet die belangrikste deel van die Super14-reeks sonder die Fransman Frederic Michalak aanpak nadat hy Saterdag ligamente in sy linkerknie geskeur het.
Michalak sal na verwagting ses maande lank nie kan speel nie, nadat hy in die negende minuut beseer is toe hy ’n skop opgevolg het.
Al verstryk Michalak se kontrak in Junie, het die Sharks se afrigter, Dick Muir, onthul dat dié Fransman langer in Durban wou vertoef.
Muir het gister groot lof vir dié Haan gehad.
“Ons is uiters teleurgesteld dat ons sonder Fred moet klaarkom,” het Muir aan sy span se webwerf gesê.
“Hy sou ná die reeks agtergebly het om ook vir ons in die Curriebekerreeks te speel.
“Hy sou dan eers na Frankryk teruggekeer het met die hoop om einde vanjaar toetsrugby te speel,” het Muir gesê.
Michalak, wat hom by die Sharks aangemeld het nadat die Springbok Butch James sy gewig by Bath in Engeland ingegooi het, het nie so ’n groot impak gemaak soos wat sommige kenners voorspel het nie.
Hy was egter ’n gewilde en invloedryke lid van die Sharks se groep.
“Hy het voorwaar een van ons geword. Hy het dit baie by die Sharks geniet en ons het dit ook geniet om hom by ons te hê.
“Hy het baie waarde tot ons span gevoeg en ons betreur die feit dat ons hom kwyt is,” het die breier gesê.
Sonder Michalak moet die Sharks vinnig planne beraam om sy plek te vul.
In Michalak se afwesigheid het die Bok-skrumskakel Ruan Pienaar op losskakel stelling ingeneem, maar hy is verroes en het nie heeltemal die mas opgekom nie.
Pienaar sukkel vanjaar om aan die gang te kom en om hom in ’n posisie los te laat waarin hy nie op sy gemak is nie, was baie gevra.
Die veelsydige Francois Steyn het vroeër vanjaar sonder veel welslae losskakel gespeel, maar daar kan dalk weer op sy knoppie gedruk word wanneer die Sharks Vrydag in Christchurch teen die Crusaders speel.
In dié geval kan Brad Barritt, wat weens ’n besering nie teen die Waratahs kon speel nie, terug op sy pos op binnesenter wees.
Waylon Murray sal sy sentermaat wees.
Die span se kaptein, Johann Muller, wat hom kort voor die kragmeting teen die Waratahs weens ’n besering moes onttrek, behoort teen die Crusaders te kan speel.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |