|
|||||||||||
|
Kampus Rugby
Donderdag: Maties wys resep teen Ikeys, maar...
25/03/2008 11:33:45 AM - (SA)
Die rugbyspan van die Maties het Donderdag gewys hoe om die voorloper in FNB se Varsitybeker-reeks te klop, maar kon dit nie self vermag nie.
Die Ikeys het dié kragmeting op George met 38-34 gewen.
Dit was een van vier wedstryde in dié reeks wat in FNB se Paasnaweek-rugbyfees op Outeniquapark gespeel is.
In die ander wedstryde het die Universiteit van Johannesburg (UJ) die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) met 57-7 verniel, die Kovsies was met 20-9 baas teen die Tshwane Universiteit van Tegnologie en die Tukkies het die Pukke met 25-11 geklop.
Die Maties het gewys die resep is eenvoudig om die Ikeys baas te raak. Oorheers voorlangs en hou die bal ten alle koste van die Ikeys weg.
Natuurlik is dit makliker gesê as gedaan, want die tieragtige Ikeys is met die geringste besit gevaarlik.
Dié Kaapse studente hardloop goeie lyne, hulle is vegters soos min en buit die geringste foute van hul teenstanders deeglik uit.
As dit nie ’n nat veld was nie, kon die telling selfs hoër gewees het, want in die tweede helfte het die Ikeys die Maties ’n slag of wat lekker deurmekaar gehad.
Uitblinkers in die Ikeys se span was die flank Craig Klue, vleuel Marcello Sampson en plaasvervanger-skrumskakel, Stuart Commins.
Dis te betwyfel of die Ikeys vandag tot sy uiterste beproef sal word deur die uitgedunde NMMU. Die Baaise studente sal diep moet delf om ’n omkeer te maak ná die groot pak slae teen die UJ.
Die UJ het met dié oortuigende sege tot die tweede plek op die puntelys opgeskuif, maar kan hom vandag teen die Maties – wat heelwat diepte het – vasloop.
Die Pukke was ongelukkig om hul flank Frikkie Maartens vroeg in die tweede helfte teen die Tukkies weens ’n rooi kaart te verloor.
Dit het sake aansienlik moeiliker gemaak vir die Potchefstromers, maar ’n mens moet ook nie die Tukkies se sege net daaraan toeskryf nie.
Die Pukke se kragmeting met die Kovsies kan vandag een van die groot hoogtepunte wees met die Tukkies wat die gunstelinge is om met die TUT af te reken.
FNB-VARSITYBEKER-PAASFEES
Universiteit van Johannesburg 57 (25), NMMU 7 (0). UJ – Drieë: Bernardo Botha (2), Brett Claassens, Deon Assegaai, Derek Harwood, Hendrik Oosthuizen, Matthew van Zyl. Doelskoppe: Ryno Luus (4). Strafdoele: Luus (2). Skepdoel: André Smith. NMMU – Drie: Zipo Lalendle. Doelskop: Richard Rijs.
Tukkies 25 (3), Pukke 11 (11). TUKKIES – Drieë: Baphiwe Mfundisi, Gert Lubbe, Johan Jackson, Pieter Booysen. Doelskop: Chandre Boshoff. Strafdoel: Johannes Mongalo. PUKKE – Drie: Andries Mahoney. Strafdoele: Cecil Meyer (2).
Ikeys 38 (14), Maties 34 (20). IKEYS – Drieë: Craig Kleu, Dane Galley, Daniel van der Merwe, Marcello Sampson, Herbie Mayosi. Doelskoppe: Matthew Rosslee (5). Strafdoel: Rosslee. MATIES – Drieë: Andrew Crausaz, Coenraad van Wyk, Jaco Nepgen, Puppy Pietersen. Doelskoppe: Sarel Potgieter (4). Strafdoele: Potgieter (2).
Kovsies 20 (17), Tshwane Universiteit van Tegnologie 9 (6). KOVSIES – Drieë: Cameron Jacobs, Ruan Jacobs. Doelskoppe: Sias Ebersohn (2). Strafdoele: Johan van Niekerk, Ebersohn. TUT – Strafdoele: Braam Pretorius (3).
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |