|
|||||||||||
|
![]() Die Maties se heelagter, Therlow Pietersen, probeer wegkom van James Watt, die Tshwane Universiteit van Tegnologie se losskakel.Foto: MARTIE DE JAGER
Kampus Rugby
Maandag: Pukke waarsku Ikeys met puik sege
25/03/2008 11:33:56 AM - (SA)
Dis die Ikeys teen die Pukke en die Maties teen die Tukkies in die halfeindronde van FNB se Varsitybeker-reeks.
Dié vier rugbyspanne het gister op Outeniquapark op George seker gemaak dat hulle Maandag in die halfeindronde speel.
Op ’n koel, bewolkte dag het die universiteitspanne vir oulaas hul seer lywe op die spel geplaas.
Die span bo-aan die puntelys, die Ikeys, se wedstryd teen die Kovsies was die laaste van die dag. Teen daardie tyd was dit reeds duidelik wie mekaar in die halfeindronde sou aandurf.
Dié twee het mekaar nogtans die stryd met mening aangesê voor die Ikeys welverdiend met 28-14 geseëvier het.
Dit was nog ’n goeie spanpoging van JJ Gagiano (kaptein) se span met die sterk senter James Martin waarskynlik die Ikeys se groot uitblinker.
In ’n ander kragmeting was die Pukke met 67-14 baas teen die Universiteit van Johannesburg (UJ).
Die Tukkies het die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) met 48-13 geklop en die Maties was met 43-10 te goed vir die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
Die Pukke het teen die UJ gewys die Ikeys kan ’n kwaai halfeindstryd verwag.
Met hul voorspelers wat ’n stewige grondslag in die vaste skrums gelê het, het die Pukke eindelik altesame nege drieë gedruk.
Hul haker, Christoffel Duvenhage, en skrumskakel, Andries Mahoney, het puik gespeel en Jean Tiedt (heelagter) het 30 punte met 2 drieë, 5 doelskoppe en 4 strafdoele aangeteken.
In die wedstryd tussen die Maties en die TUT het die skeidsregter, Mtheleli Msileni, vier geel kaarte uitgedeel.
Dit was nie ’n vreeslik aanskoulike wedstryd nie, maar wel baie hard met die Maties se flank en kaptein, Wesley Wilkens, wat weer uitstekend vertoon het.
Die TUT het heelwat druk op die Maties geplaas in die vaste skrums, maar kon nie veel uitrig op die aanval nie.
Die NMMU het tot die rustyd goed met die Tukkies meegeding toe die telling net 12-6 vir die Pretoriase studente was.
Johan Jackson, Tukkies se een senter, het in die tweede helfte omtrent gemaak wat hy wou en het drie drieë gaan druk.
FNB VARSITYBEKER-TOERNOOI
Tukkies 48 (12), NMMU 13 (6). TUKKIES – Drieë: Johan Jackson (3), Gert Lubbe, Pieter Booysen, Sisa Mafu, Stephan van Heerden, Warwick Tecklenburg. Doelskoppe: Johannes Mongalo (4). NMMU – Drie: Wesley Kew. Doelskop: Michael Gallinetti. Strafdoele: Gallinetti (2).
Pukke 67 (30), Universiteit van Johannesburg 14 (7). PUKKE – Drieë: Grant le Roux (2), Jean Tiedt (2), Willem van der Wal (2), Wouter Watermeyer, Willem Barnard, Devan Eckard. Doelskoppe: Tiedt (5). Strafdoele: Tiedt (4). UJ – Drieë: Derick Minnie, Jacobus de Wet. Doelskoppe: Ryno Luus (2).
Maties 43 (17), Tshwane Universiteit van Tegnologie 10 (0). MATIES – Drieë: Andy Russell, Coenraad van Wyk, Jean Stemmet, Llewellyn Winkler, Matthew Dobson, Wilhelm Koch, Zandre Jordaan. Doelskoppe: Puppy Pietersen (3), Sarel Potgieter. TUT – Drie: VS Willis. Doelskop: James Watt. Strafdoel: Braam Pretorius.
Ikeys 28 (17), Kovsies 14 (14). IKEYS – Drieë: Wesley Chetty, JJ Gagiano, James Martin, Justin Bijl. Doelskop: Kyle Wickins. Strafdoele: Danie van der Merwe (2). KOVSIES – Drie: Rowan Walters. Strafdoele: Jan du Toit.
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |