|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Kampus Rugby
Maties durf Pukke in Potch aan
03/03/2008 10:20:39 AM - (SA)
PORT ELIZABETH. – Die televisie-kollig is vandag op die Pukke en die Maties se rugbyspanne, maar die drama kan eerder in die twee ander FNB Varsitybeker-wedstryde opgelewer word.
Die twee onlangse verloorspanne, die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Universiteit en die Universiteit van Johannesburg, kom onderskeidelik teen die Tswane Universiteit van Tegnologie en Ikeys te staan.
Met die Maties weet ’n mens wat om te verwag.
Dié span het met sy oorwinning van 40-24 verlede week hier oor die NMMU gewys hy weet hoe om weg van die huis af te wen.
Daarom sal die span nie bang wees om die Pukke in Potchefstroom aan te durf nie.
Die NMMU lek steeds sy wonde ná daardie pakslae en TUT kan op sy tuisveld met ’n knorrige klomp te doen kry.
Dis egter veral die kragmeting tussen UJ en Ikeys in Johannesburg wat wild kan raak.
JJ Gagiano, Ikeys se kaptein, was verlede week baie katvoet vir die Johannesburgers, wat vroeër met 6-54 deur die Kovsies verniel is.
“Ons weet dat die Universiteit van Johannesburg in sy eer gekrenk is ná die nederlaag teen die Kovsies en sal wil vergoed. Ons soek egter ’n wegoorwinning,” het hy gesê.
“Om die Tukkies te klop, was ’n groot oorwinning vir ons. Ons was suksesvol met die eerste duikslae, het die kanse gebruik en tradisionele Varsity-rugby gespeel.”
UJ het ’n rits veranderings gemaak in die hoop dat die nuwe manne met meer durf sal speel as diegene wat so loodvoetig teen die Kovsies was.
. In Saterdag se wedstryd tussen die Tukkies en Kovsies in Pretoria het die tuisspan ’n baie goeie oorwinning van 32-14 behaal.
Daarmee het Tukkies hulle aanslag in dié reeks weer op koers gekry.
Die wenspan het vier drieë teen twee aangeteken.
. Die bepalings is (tuisspan eerste): 18:45: Pukke t Maties; UJ t Ikeys. 20:00: TUT t NMMU.
TV: Pukke t Maties van 18:30 op SuperSport 1 en GDN.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |