|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Kampvegter
Debietorders nie gestop: Flexi Cell-klagtes onder die loep
18/08/2008 12:42:54 PM - (SA)
Saak 1: Mnr. Cecil Louw van Beaufort-Wes sê hy het in 2005 ’n kontrak met Flexi Cell gesluit vir R49 per maand.
Hy skryf Flexi Cell het sy SIM-kaart reeds in Oktober 2005 geblok en dat daar bedrae van R99, R73 en R49 van sy rekening verhaal is.
“Ek het nou nog geen lugtyd van hulle ontvang nie,” benadruk hy.
Hy vertel verder dat hy reeds talle briewe aan Flexi Cell gerig het en selfs hul kantoor in Kaapstad besoek en self sy bank genader het om die debietorder te kanselleer, sonder enige sukses.
Kampvegter het by me. Roegshana Solomons, klantediensbestuurder van Flexi Cell, aangeklop.
Solomons sê Flexi Cell sal aan Louw ’n SIM-kaart stuur met al die verskuldigde lugtyd op.
Sy verduidelik verder sy het die saak met Louw opgeneem en dat al sy rekeninge nou gekanselleer is. Daar sal geen verdere geld van sy rekening verhaal word nie.
Die saak is opgelos.
Saak 2: Mnr. Griffiths Makok, ook van Beaufort-Wes, skryf dat hy soortgelyke probleme met Flexi Cell ondervind.
Hy het in 2005 ’n kontrak van twee jaar met Flexi Cell gesluit waarvolgens hy R69 per maand sou betaal.
Sy kontrak het reeds in Oktober 2007 verstryk.
“Die kontrak het verstryk, maar Flexi Cell het in gebreke gebly om die debietorder te stop,” skryf hy.
Hy verduidelik verder dat die kontrak kan voortgaan, maar dat Flexi Cell hom met die uitstaande lugtyd moet vergoed.
Kampvegter het die saak met Solomons opgevolg.
Solomons skryf dat daar ’n misverstand was aangesien Makok twee selfoonkontrakte het en een van die kontrakte proaktief deur Flexi Cell gekanselleer is, aangesien geen lugtyd daarop gelaai is nie.
Sy sê dat die aktiewe kontrak nou gekanselleer is en dat Makok ’n SIM-kaart met die uitstaande lugtyd sal ontvang.
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |