|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Kampvegter
Altech Autopage Cellular - Klante kla oor diens
28/07/2008 12:20:57 PM - (SA)
Saak 1:
Verbruiker: Jonathan Nel – 16 jaar oud
Probleem: Altech Autopage Cellular debiteer sy rekening, hoewel hy nie ’n klant van die maatskappy is nie.
“Ek mag nie kontrakte teken nie en my ouers het nooit enige kontrak met Autopage geteken nie,” skryf hy.
Hy sê dat sy probleem reeds in 2007 begin het en hoewel hy en sy ouers Altech Autopage Cellular gekontak het en ook die bank om raad genader het, het die aftrekkings steeds voortgegaan.
Die aftrekkings het maandeliks gewissel van R60 tot R892.
Kampvegter het besluit om die saak met die mediawoordvoerder van Altech Autopage Cellular, me. Sharon Fyfe, op te volg.
Die verduideliking: Fyfe sê dat dit ’n “blaps” aan Altech Autopage Cellular se kant is en dat Jonathan se bankbesonderhede van die rekenaarstelsel verwyder is.
“Om te probeer kompenseer wil ons graag ’n geskenkbewys aan hom stuur,” skryf sy.
Saak 2:
Verbruiker: Me. Annemarie Aldrich
Probleem: Aldrich het ingeteken op Autopage se Mymeg500-opsie vir internettoegang.
Volgens Aldrich is 500 MB (megagreep) se gebruik by die totale maandelikse bedrag van R228,03 ingesluit.
Sy skryf dat daar egter bo en behalwe die R228,03 in Oktober 2007 tot Februarie vanjaar altesaam R1 405,66 afgetrek is.
“Volgens die state van Autopage het ek egter nooit meer as die 500 MB gebruik nie,” skryf Aldrich.
Sy vertel dat sy Altech Autopage Cellular al ’n hele paar keer gebel het en slegs na die tegniese afdeling verwys word, maar nooit iets terug hoor nie.
Kampvegter het by Fyfe gaan aanklop om die probleem te bespreek.
Die verduideliking:
Fyfe het verduidelik dat Aldrich se rekening met die betrokke bedrag gekrediteer is.
“Verder wil ons ook net bevestig dat die kredietkontroleur wat aan Aldrich se rekening werk, met haar in verbinding was en dat sy nou tevrede is,” skryf sy.
Kampvegter het die saak met Aldrich verder bespreek.
Sy het bevestig dat haar rekening met R650 gekrediteer is.
“Hulle het blykbaar na die internetgebruik op die rekening gaan kyk – dit lyk my hul stelsels gee ook nie die regte weerspieëling van wat aangaan nie.
“In hierdie stadium beskou ek die saak as afgehandel,” het Aldrich aan Kampvegter gesê.
Saak 3:
Verbruiker: Mnr. Tom Bezuidenhout
Probleem: Bezuidenhout is ingeteken op die 3G-internet-keuse by Altech Autopage Cellular.
Hy kan volgens die kontrak elke maand 350 MB aflaai teen R212 per maand.
Hy meen egter dat Altech Autopage Cellular elke maand meer as R212 van sy rekening verhaal.
“Tot op datum kon ek ongeveer 880 MB gebruik het op die ou kontrak en 1 400 MB op die nuwe kontrak.
“Dit lyk of ek 60 MB per maand gebruik,” skryf hy.
Na vele pogings om Altech Autopage Cellular te kontak, het Bezuidenhout die saak onder Kampvegter se aandag gebring.
Die verduideliking: Fyfe sê dat dit op hul rekords blyk dat Bezuidenhout in kennis gestel is dat ’n krediet ten opsigte van ’n fout op sy rekening aangevra is.
“ ’n Verdere krediet sal ook op Bezuidenhout se rekening verskyn in goeder trou. Dit sal wees ten opsigte van die gesloer om die rekening reg te stel,”skryf sy.
Hoewel Bezuidenhout R212 per maand vir 350 MB betaal, sal enige verdere gebruik oor 350 MB hom ekstra geld uit die sak jaag, volgens Fyfe.
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |