|
|||||||||||
|
Kampus
Joolbeker steeds gesogte trofee
13/05/2008 01:54:41 PM - (SA)
DIE Nerina-koshuis is vanjaar met Pieke as die algehele joolwenners gekroon. MELINDA CLAASEN, die primaria, vertel wat dit vir hulle beteken en of jool nog werklik saakmaak.
WAT beteken dit deesdae vir studente om as joolwenners gekroon te word? Is die joolbeker nog iets waarna koshuise streef om te wen?
“Dit beteken baie! Dit beteken dat al die maande se beplanning, min slaap en tyd wat jy ingesit het die moeite werd was. Al gaan die jool oor die gemeenskap, is dit nog steeds lekker om erkenning te kry, juis omdat jy die ekstra myl geloop het om tot die gemeenskap by te dra en nie net die nodige gedoen het nie.
“Ek glo die meerderheid van die koshuise streef daarna om joolwenners te wees. Dit het ’n groot invloed op die gees, entoesiasme, patriotisme en deelname vir die res van die jaar van eerstejaars en senior lede van ’n koshuis of private wyk.”
Wat het julle as dameskoshuis dié jaar anders gedoen om die jool te kan wen as in die verlede?
“Ons uitgangspunt was dié jaar glad nie om die jool ten koste van alles te wen nie. Verlede jaar was ’n groot leerskool – al het ons omtrent R350 000 ingesamel, het ons nog steeds nie gewen nie.
“Dit het hierdie jaar gegaan oor ’n positiewe verhouding tussen Nerina en Pieke. Ons verhouding was gegrond op vertroue: Elke HK-lid was verantwoordelik vir sy portefeulje en die res was net daar om te ondersteun waar nodig. Ons het elke oomblik van die jool ten volle geniet en dus was ons joolpoging al klaar ’n groot sukses en ons het geslaag in ons doel.
“Ons wou meer doen as nodig omdat elke ekstra rand wat jy insamel ’n verskil kan maak aan iemand se lewe – hoekom dan net genoeg doen?”
Hoe het julle dit gaan vier toe julle gehoor het julle het gewen?
“Ons vier dit nog steeds en sal seker nog die hele jaar! Pieke en Nerina het ’n after party by Denim&Diamonds gehad. Die HK het met al die bekers op die verhoog gaan dans. NYPD (Nerina&Pieke-diens) het die son sien opkom!”
Wat, volgens julle, moet anders gedoen word om die jool nog suksesvoller op Stellenbosch te maak?
“Die jool is al klaar ’n reusesukses. Dit sal baie positief ervaar word indien die MGD die koshuise presies kan inlig oor waarheen die geld gaan wat ingesamel word.”
Wat beplan julle vir die res van 2008 – waarvoor werk mens nadat die jool verby is?
“Ons gemeenskapsprojek, Hands on Paper, gaan nog voort. Verder pak Nerina elke aktiwiteit wat oor haar pad kom met entoesiasme en geesdrif aan. Dit is ’n baie spesiale jaar vir Nerina – dis ons 40 jaar-reünie vanjaar. Ons beplan ’n naweek waarin ons dit gaan vier (12-14 September). Die jool is skaars verby en ons moes al klaar nuwe partners vir volgende jaar kies.
“Ons kan nie wag vir die Nerina-en-Huis Visser-jool nie!”
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |