|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Kampus
US gee Graça Machel eredoktorsgraad
17/04/2008 05:06:37 PM - (SA)
’N OUDHOOFREGTER, ’n Belgiese akademikus en ’n kampvegter vir die regte van vroue en kinders is onlangs met eregrade deur die Universiteit Stellenbosch (US) vereer.
Ongeveer 1 800 Maties het op 17, 18 en 19 Maart hul graad van die US ontvang.
Grade is onder meer toegeken in die fakulteite agriwetenskappe en ekonomiese en bestuurswetenskappe (insluitend B.Comm. met regsvakke en B.Red., LL.B.).
Aan regter Arthur Chaskalson, ’n bekende regskenner, die eerste president van die konstitusionele hof en later ook hoofregter van Suid-Afrika, is ’n doktorsgraad in die regsgeleerdheid (LL.D.), honoris causa, toegeken.
Nóg twee eregrade is saam met dié van Chaskalson toegeken. ’n Dekaan van die fakulteit landboukunde en toegepaste biologiese wetenskappe aan die Katolieke Universiteit Leuven in België, prof. Vic Goedseels, het ’n doktorsgraad in die natuurwetenskappe in landbou (D.Sc. Agric.) ontvang.
Aan Graça Machel, kampvegter vir die regte van vroue en kinders en eggenote van oudpresident Nelson Mandela, is ’n doktorsgraad in die wysbegeerte (D.Phil.) toegeken.
’n Trotse Zoeloe en nóú Matie- graduandus, Sipho Gift Khanyile (44), het die aandag getrek toe hy sy honneursgraad in die opvoedkunde (onderwysontwikkeling: onderwysbestuur) in sy tradisionele Zoeloe-uitrusting ontvang het.
Dié boorling van KwaZulu-Natal het gesê hy is ’n trotse Afrikaan en die dra van sy tradisionele uitrusting is ’n uitdrukking van die trots op sy herkoms en kultuur. Khanyile het ná die gradeplegtigheid na sy tuisdorp naby Ulundi teruggekeer en gesê hy sal moontlik volgende jaar weer na Stellenbosch kom vir sy meestersgraad.
Grade in die fakulteite lettere en sosiale wetenskappe, regsgeleerdheid, teologie en krygskunde is óók toegeken.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |