|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Pietman Geldenhuys alias Peter Mitchell gesels oor sy album in De Akker op StellenboschFoto: Taryn Carr
Kampus
Maestro borrel en kyk net vorentoe
17/04/2008 05:06:40 PM - (SA)
Sy regte naam is Pietman Geldenhuys, maar hy het gou besef dié naam “gaan nie werk op ’n verhoog nie”. Nou is hy Peter Mitchell – ’n nuwe kunstenaar waarvoor selfs Steve Hofmeyr kruisbeen voor die verhoog sal gaan sit om net ’n bietjie te luister.
HY borrel.
Hy borrel oor van energie, kinderlike opgewondenheid en ongeloof oor hoe goed dinge met hom en sy loopbaan gaan.
Elke nou en dan hou hy sy kop met sy hande vas en wip liggies op en af op die bank. Hy sit sy hoed reg op sy kop en lig die mou van sy hemp op om sy tatoeëermerk – ’n mannetjie met ’n hoed wat heeltyd vorentoe kyk – te wys. Dié is deel van sy persona.
Peter Mitchell is ’n snaakse ou. Dalk is dit sy geaardheid of dalk is dit omdat hy nie net sing nie, maar ook die pot as komediant aan die kook hou.
Maar alle grappies op ’n stokkie, want sy debuutalbum, Hamlet by Night, is beslis nie iets om ligtelik op te neem nie.
“Dié album het ’n ernstiger aanslag,” sê hy.
Sy liedjies is nie ’n geforseerde kommersiële projek nie.
“Die liedjies kom al ’n lang pad. Dit is die proses van my lewe en elke liedjie vertel ’n storie daarvan.
“En ’n mens kan dit op die album hoor. Daar is happy songs, sad songs en love songs.”
Hy ken die musiekbedryf ook goed. Hy het as deel van Valiant Swart se groep en die Mystic Boer-orkes al baie blootstelling gekry. Dit was juis saam met die Mystic Boer dat alles begin het.
Een aand was hy die seremoniemeester by een van Valiant Swart se optredes en daarna het Vernon Swart (tromspeler) homself voorgestel.
By ’n volgende geleentheid het hy vir Valiant ontmoet en dis toe hy net weet “something good’s going to happen”.
Van “roadie”, “spare part”, perkussiespeler (“sodat dit net lyk asof ek iets doen”), tot uiteindelik ’n kitaarspeler vir Valiant Swart.
Nou is hy en Vernon dik pelle.
Hy het ook met ’n hele paar groot name in die bedryf aan die album gewerk, onder andere Schalk Joubert, Robin Auld, Schalk van der Merwe en selfs die sepiester Neil Sandilands (Bart van 7de Laan).
Al sy liedjies is vir hom “kinders wat met al hulle tone en vingers gebore is”.
Anders as baie ander musikante het die liedjies reeds van die begin volmaak uit hom gevloei eerder as wat hy dit stukkie vir stukkie oor ’n tydperk bymekaar moes las.
Die uitreiking van die album, sê hy, was soos om ’n kind skool toe te stuur.
Hy beskryf die album bloot as kos.
“Ek dink mense sal dieselfde gevoel kry as wanneer jy ’n lekker kortverhaal lees.”
Sy liedjies is iets wat hy terugploeg vir dít wat hy ontvang het, wat dit ook al is.
“Om die k—k wat die lewe jou gooi te vang en te filter,” antwoord hy op ’n vraag oor wat hom inspireer om te skryf.
Maar hy skryf nie vir ’n spesifieke gehoor nie. Dit is die gehoor wat die liedjies kies.
Peter het ’n paar jaar in Skotland gewoon waar hy op straat moes gesing het om geld te verdien. “Partykeer was dit so koud. Ek het geleer om moeilike liedjies te speel met net drie snare, want jou vingers kry te koud.” Hy het Skotland toe gegaan om wys te raak en is nie oor een oomblik spyt nie.
Ewe skielik spring hy weg met ’n radio-omroeper stem: “En toe gaan swot ek om ’n professionele radio- en televisieomroeper te word.”
Dié man is vol stories. Elke nou en dan onderbreek hy homself om met ’n nuwe een te begin.
Op die KKNK vanjaar het hy vir die eerste keer alleen by die Kliphuis gespeel.
Daar is niks vooraf geoefen nie, en hy het nie die mense wat saam met hom gespeel het geken nie, maar speel het hulle gespeel. Só goed dat Steve Hofmeyr kruisbeen op die vloer in die volgepakte vertrek gaan sit het om te luister.
Vandaar het die nuus vinnig versprei. Hy kan dit nie glo nie, maar tog kan hy, want hy het hard hiervoor gewerk.
“Ek is ’n musiekslet!”
Sy albumtoer begin op 8 Mei in die Dorpstraat-teater.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |