|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Kampus
Honderde studente loseer onwettig
13/03/2008 10:06:35 AM - (SA)
NAGENOEG 85% van die studentelosieshuise op dié dorp is onwettig, beweer ’n stadsraadslid wat ’n hoëvlak-ondersoek na dié kwessie en ook na “studentegedragsprobleme” gaan aanvra.
Daarmee beoog mnr. Dawid Botha (DA) die snelle toepassing en afdwinging van sonerings- regulasies onder losieshuis- eienaars, die radikale verskerping van wetstoepassing op die dorp (ook snags) en die bevordering van goeie burgerskap en buurskap tussen studente en inwoners.
Botha, wat wyk 6 (Simonswyk, Uniepark, Rozendal, Karindal, Mostertsdrift en die Jonkershoek-vallei) verteenwoordig, raam meer as 620 studente bly tans onwettig in woonbuurte.
Dit blyk dat daar altesame 90 losieshuise in woonbuurte is, waarvan 24 goedgekeur is. Van dié 24 word minstens 12 egter nie ingevolge die reëls geokkupeer nie, het Botha gesê. Dit beteken net 12 (13%) van die 90 is wettig.
“ ’n Mens sou dus kon beweer dat 85% van studentehuise in enkel- residensiële woonbuurte onwettig is.”
Op ’n vergadering verlede Dinsdagoggend deur verteenwoordigers van die US, die munisipaliteit en wyk 6 is besluit dat Botha ’n versoek om ’n hoëvlak-taakspan om die kwessie te bekyk onder die aandag van die burgemeester, me. Lauretta Maree, en die munisipale bestuurder, mnr. David Daniels, sal bring.
Mnr. Pieter Kloppers, bestuurder: studentehuisvesting aan die US, sal dieselfde versoek aan die US-rektor, prof. Russel Botman, deurgee.
Botha het daarop gewys dat Stellenbosch tans sowat 10 000 studente meer as tien jaar gelede het (van alle tersiêre inrigtings).
Daar is ’n tekort aan studentebehuising en, volgens hom, is daar in te veel losieshuise ’n gebrek aan interne beheer en dissipline.
“ ’n Kultuur van erge drank-/dwelmmisbruik en geraas het onder studente ontstaan. Daar is weinig gevolge vir wetsoortreding snags en vir sonerings- oortredings deur eienaars van onwettige losieshuise.”
Botha meen daar is twee hoofoorsake vir die studente se gedragsprobleem in woonbuurte:
. die gebrek aan die behoorlike toepassing en afdwinging van soneringsregulasies deur die munisipaliteit se beplanningsafdeling; en
. die US se gebrek aan morele verantwoordelikheid om die studente bewus te maak van hul plig tot goeie burgerskap en buurmanskap teenoor permanente inwoners.
Mnr. Mohamed Shaikh, US-woordvoerder, het laasgenoemde stelling as ’n growwe veralgemening afgemaak en gewys op die toegewydheid van die vorige en huidige studentedekaan om goeie burgerskap te bevorder.
Die tekort aan studentehuisvesting op Stellenbosch word volgens Shaikh in verskeie forums met onder meer die munisipaliteit bespreek. Daar is ’n behoefte aan meer koshuise, maar dit moet verreken word teen faktore soos bekostigbaarheid en beskikbare ruimte, het hy bygevoeg.
Die US het sowat twee jaar gelede ’n nuwe koshuis met 500 kamers beskikbaar gestel. Hy praat ook deurlopend met moontlike ontwikkelaars. Wat studente in private huise betref, stel die US en die munisipaliteit ’n databasis van geakkrediteerde losieshuise saam om die moontlike uitbuiting van studente hok te slaan en beter bestuur van sodanige huise te bewerkstellig.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |