Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
640 dae tot afskop
2010
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  


VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
Kampus
Skriknag vir Maties
11/03/2008 08:43:44 AM - (SA)

STELLENBOSCH. – Die hardhandige optrede van die polisie in dwelmklopjagte in drie kuierplekke hier kan ’n draai in die hof maak nadat verskeie partytjiegangers klagte teen die polisie ingedien het.

Die klopjagte het vroeg Saterdagoggend in die Mystic Boer, Bohemia en die Springbok Pub plaasgevind. Volgens die polisie is dwelms in die drie plekke gevind.

Met die bestorming van die plekke is pepersproei op studente gespuit, skote op studente gevuur en is vroulike partytjiegangers glo deur manlike polisielede deursoek.

Twee internasionale deelnemers aan die pas afgelope Woordfees se skrywersgala het ook in die polisieklopjag deurgeloop. Polisie-optrede is deur die Woordfees betreur, met vrese vir internasionale gevolge.

Kapt. Elliot Sinyangana, polisiewoordvoerder, het gesê die chaos omstreeks 01:00 Saterdagoggend was ’n dwelmklopjag wat ses stukkies hasjisj, 150 g dagga en ’n onbekende hoeveelheid kokaïen opgelewer het.

Hy het gesê niemand is in hegtenis geneem nie omdat die dwelms wat gevind is, in die klubs agtergelaat is. Hy het bygevoeg klagtes oor polisie­gedrag sal deeglik ondersoek word.

’n Digter uit Vlaandere, Dirk van Bastelaere, en ’n Nederlandse skrywer, Tommy Wieringa, is deur die polisie op die grond gegooi toe hulle in Bohemia was, het prof. Dorothea van Zyl, feesdirekteur, gesê.

Sy was in aanraking met die polisie en die saak word ondersoek.

“Die Woordfees betreur die manier waarop oorsese gaste behandel is en hoop nie daar is reperkussies in die buiteland nie.”

Die polisie het studente beveel om selfoon-beeldmateriaal van die klopjagte te vernietig en volgens van die mense is hul selfone gebreek. Beeldmateriaal wat op www.dieburger. com te siene is, wys egter wat gebeur het.

Video-opnames van kringtelevisiekameras in twee gewilde kuierplekke toon die polisie wat met vuurwapens instorm en sowel manlike as vroulike studente rondstamp sonder dat hulle weerstand bied.

Dit wys ook hoe die polisie pepersproei in studente se gesigte sproei terwyl hulle op die grond sit.

“Jy kan nie my vagina deursoek nie!” het ’n ontstelde vrouestudent volgens ’n kroegman in Bohemia uitgeroep en aangevoer sy word onbetaamlik deur polisielede betas.

Asmalyers en diabete het vertel hoe hulle deur die polisie verhinder is om mediese behandeling te kry.

Mnr. Jan Oberholzer, ’n mede-eienaar van Bohemia, het gesê daar is sedert die klopjag gate in die plafon van sy onderneming – “wat klaarblyklik koeëlgate is”. Op die video-beeldmateriaal is dit duidelik hoe skote afgevuur word terwyl die polisie instorm.

Sinyangana hou vol dat dit onwaar is dat skote afgevuur is.

Ooggetuies het vertel die polisie het deurgaans vuurwapens, met inbegrip van haelgewere en handwapens, by hulle gehad en dit gebruik om studente te dreig, te stamp en selfs te slaan.

Hoewel die polisie later gesê het die wapens was nie gelaai nie, is ’n patroon buite Springbok Pub van die straat verwyder nadat ’n polisieman sy wapen oorgehaal en die patroon uitgeglip het.

Mnr. Willem Coertzen, eienaar van Mystic Boer, wat vasgeboei en in die gesig en met ’n vuurwapen gestamp is, het gesê die polisie het verlede jaar dieselfde soort dinge gedoen en daarmee weggekom. “Die verskil is dat ons hierdie keer videobewyse het.”

“Drie vriende het huilend uit Spring­boks gehardloop, want hulle is onvanpas deursoek,” het me. Erika Scott, ’n vierdejaar-dramastudent, vertel.

’n Regstudent, me. Gillian Armstrong, is volgens haar geslaan, met pepersproei bespuit en op die grond neergegooi. Ooggetuies het vertel hoe ’n vrouestudent deur ’n polisielid geslaan is oor sy “in die pad was”.

’n Geskokte vrou, wat haarself net as Adel wou identifiseer, het vertel hoe sy verskeie kere deur ’n polisie­beampte geslaan en geklap is.

Ooggetuies het vertel hoe ’n vrou aan haar hare oor die straat getrek is.

Nadat die polisie besef het dat foto’s en op selfone vasgelê is, het hulle probeer om al die studente te dwing om die getuienis te vernietig deur hulle met aanhouding te dreig.

    
VIND
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |