|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Kampus
‘Media moet hiermee óók hardloop’
11/03/2008 08:43:50 AM - (SA)
TIENTALLE webgebruikers het gister kommentaar gelewer op die storie van die klopjagte op Stellenbosch. Hier volg verskeie uittreksels.
Jaco (Oud-Kovsie) skryf: “Ons Kovsies sit mos ook nou die afgelope paar weke en kyk hoe die media met ’n onskuldige storie begin hardloop het en die asem het vir nog ’n ronde . . . selfs in die VSA en Brittanje. Ek hoop net hulle (die media) is so ywerig om met hierdie afskuwelike tentoonstelling van barbaarsheid op loop te sit. Liewe Maties, ons speel lekker saam met julle rugby en ons kuier lekker saam in Bohemia, Mystic en Springbok Pub. Ons is baie jammer oor wat by julle gebeur het. Nog nooit het ek gedink ek sal die dag sien dat ’n man dit op hom neem om ’n meisie rond te gooi in ’n nagklub of elders nie. Soek dwelms – ja . . . slaan aan dogtertjies – nee. Of vra jou kind op varsity om te help met die groot woorde. “Oeps” word met vier letters gespel en so ook C-C-T-V. Sies!”
Pieter Boshoff skryf: “Net soos die vier studente by Bloemfontein ’n verleentheid is vir al wat student is of in watter groep hulle ook al verdeel word, is dié polisiemanne en -vroue ’n verleentheid vir die duisende polisiebeamptes wat hard werk om te verseker ons is veilig. Ek werk gereeld met polisielede wat ná ure help om te sorg dat kinders wat vermis geraak het, veilig gevind word. Ek weet sommer die ouens laat sak hulle koppe in skaamte dat hul kollegas hul mag so misbruik. Ek is baie omgekrap; dis beelde soos dié wat die land eindelose skade berokken en al die goeie werk wat gedoen word, vernietig. Ek hoop daar gaan streng opgetree word.”
Nagraadse Matie skryf: “In só ’n land bly ek nie ’n dag langer as wat ek moet nie. Aan die einde van die jaar neem ek my kokertjie met my M.Sc. in en gaan woon oorsee – permanent! Bravo aan Stephan Matthee en Jason Boswell wat die moed gehad het om die artikel te skryf. As mede-Matie is ek baie trots op julle.”
Student1234 skryf: “Ek kyk regtig met ongeloof na die video’s. Wat het van polisiëring in Suid-Afrika, en meer spesifiek op Stellenbosch, geword? Is dit die “eerbare dieners van die gereg” op wie ons moet vertrou? Dis ’n skande. Is die polisie in Suid-Afrika verhewe bo die wet? Aan wie moet hulle verslag doen?”
S. Lander skryf: “Dit is reg dat die polisie daar klopjagte hou. Studente is nie bo die reg verhewe nie.”
Gatvol skryf: “Mooi so!! Ondersoek ook die verdwyning van padborde, naamborde, plantpotte, tuinbanke, plante, blomme ens. Privaatpersele word ook onregmatig betree en verniel/beskadig. Dit alles onder die vaandel van studentepret!”
Baasspeurder Faber skryf: “Wat moes die polisie doen? Moes hulle vir almal vriendelik vra om hulle drankies te los en asseblief enige dwelms op die perseel te oorhandig?? Dis ’n KLOPJAG! Almal weet al lankal dat hierdie betrokke kuierplekke dwelmneste is. En jy MOET ’n idioot wees as jy tydens ’n polisieklopjag nie jou samewerking gee nie. Onthou, ons kan nie hoor wat daardie studente alles vir die polisie gesê het nie.”
Oudstudent skryf: “Die polisie en studente op Stellenbosch het nog altyd ’n gelaaide verhouding gehad, maar sulke optrede is onvanpas, ongrondwetlik, onregverdig en hartverskeurend.”
Hewig ontstig skryf: “Hierdie insident moet nie afgemaak word as rassisme nie. Dit is bloot ’n misbruik van mag. Ek hoop werklik dat die Grondwet nou sy werk gaan doen as daar soveel bewyse is van menseregteskending . . .”
Dankie tog! skryf: “Mense, ’n klopjag is ’n klopjag! Hoe anders gaan hulle uitvind waarmee julle regtig besig is?”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |