|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Kampus
Dwelms ‘rede vir Maties-klopjag’
11/03/2008 09:01:15 AM - (SA)
STELLENBOSCH. – Die dwelmklopjag in die vroeë oggendure Saterdag op drie gewilde kuierplekke op dié studentedorp het nie op die ingewing van die oomblik geskied nie.
Dit is voorafgegaan deur verskeie klandestiene operasies waarin dit geblyk het dat dwelms op die betrokke persele gekoop kon word.
Eienaars van gelisensieerde persele is ook twee weke gelede op ’n byeenkoms van die plaaslike drankforum versoek om hul sake in orde te kry rakende hul verantwoordelikheid om nie dwelmverspreiding op hul persele toe te laat nie.
Desnieteenstaande het dit voortgegaan, het dir. Dirk Mentoor, stasiekommissaris van die Stellenbosch-polisie, gister gesê.
Dit is bevestig deur optredes Vrydagaand voor die klopjag. “Ons het geweet daar was dwelmmisbruik net voordat ons toegeslaan het.”
Verlede jaar is ’n groot dwelmsmokkelnetwerk in Cloetesville – wat deur studente besoek is – ook toegemaak, het hy bygevoeg.
Die klopjag Saterdagoggend was ’n geïntegreerde optrede deur die polisie se intervensie-eenheid, die plaaslike polisie en die plaaslike brandweer, bygestaan deur die polisie se regsafdeling. Die brandweer moes seker maak dat die persele aan die brandregulasies voldoen en verskeie waarskuwings en kennisgewings is volgens Mentoor aan die onderskeie klubs uitgereik.
“Ons het ook ’n video-opname van ons optredes.”
Volgens hom was daar nie ’n “toestroming” van klagtes na aanleiding van die klopjag nie. Teen druktyd gisteraand is vier klagte – almal van aanranding – by die plaaslike polisie ingedien.
Mentoor het sedert Saterdag aan die Universiteit Stellenbosch se afdeling beskermingsdienste, die huiskomiteevoorsitters en die studenteraad verduidelik dat die optrede nie op universiteitsterrein was nie, maar by gelisensieerde persele.
Oor bewerings dat die polisie nie oor die naweek klagtes oor die betrokke voorval wou hanteer nie, het hy gesê daar is inderdaad besluit om eerder gister kollektief daarna te kyk. Een faktor wat hier in ag geneem is, was dat mense in klubs onder die invloed van drank kan wees.
Oor die bewerings van hardhandige optrede, spuit van pepersproei en skote wat gevuur is, het hy gesê: “Ons het ons voorberei vir die moontlike risiko’s. Ons kan nie onvoorbereid na ’n plek toe gaan nie.”
Hy ontken egter dat enige skerp ammunisie of rubberkoeëls gebruik is. Oor die feit dat ’n koeëlgat in ’n klub se dak uitgewys is, het hy gesê: “Dit kan seker later ook plaasgevind het. Ons sit met ’n vyandige groep eienaars wat die teendeel wou bewys.”
Adv. Lennit Max, DA-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en voormalige Wes-Kaapse polisiehoof, het gister gemaan dat ’n “tipe arrogansie en magsmisbruik” besig is om onder die land se polisie kop uit te steek. Hy gaan vandag ’n brief aan die onafhanklike klagtedirektoraat (OKD) stuur waarin hy sal versoek dat Saterdagoggend se polisie-optrede ondersoek word.
Die US het by monde van ’n woordvoerder, mnr. Mohamed Shaikh, ’n ernstige beroep op Mentoor gedoen om die klagtes deur studente onverwyld deur die OKD te laat ondersoek.
“Die US het begrip vir die soms moeilike omstandighede waaronder die polisie hul taak moet uitvoer, maar verwag dat die reg sy beloop sal neem in optrede teenoor sowel die handelaars in onwettige dwelms asook die polisie wat hulle aan onnodige hardhandigheid en brutaliteit skuldig gemaak het.
“Die universiteit . . . hoop om so gou doenlik hoëvlak-samesprekings met die polisie te hê om die naweek se gebeure te bespreek en enige verhoudingskade ná Vrydagnag se optrede te probeer herstel.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |