|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Kampus
Maties wil stappe doen
11/03/2008 08:43:57 AM - (SA)
STELLENBOSCH. – Strafregtelike en siviele stappe word oorweeg nadat ’n klopjag Vrydagnag hier op drie gewilde studente-kuierplekke ’n behoorlike herrie ontketen het.
Die kuierplekke Bohemia en Mystic Boer het gelyktydig deurgeloop, gevolg deur die Springbok Pub.
Mnr. George de Beer van Honey Prokureurs verteenwoordig ál drie klubs asook sekere klubgangers wat daarna bewerings van hardhandige polisie-optrede gemaak het. Hulle oorweeg nog teen wie daar stappe ingestel moet word, het De Beer gister gesê.
“Dit kan byvoorbeeld polisiebeamptes in hul persoonlike hoedanigheid of die (plaaslike) stasiekommissaris wees.”
Studente het veral vuur gespoeg omdat polisiebeamptes volgens hulle daarop aangedring het dat selfoonfoto’s en -videogrepe uitgewis word.
Volgens De Beer kan daar beslag gelê word op selfoonvideo’s of -foto’s om dit as bewysmateriaal te bewaar – maar nie bloot om dit uit te wis nie.
Verskeie vrouestudente het ook beweer hulle is fisiek deur manlike polisiebeamptes deurgesoek.
De Beer het gesê dít is taboe.
“ ’n Vrou mag slegs deur ’n vrou ondersoek word.”
Mnr. Jan Oberholzer, mede-eienaar van Bohemia, het ook beweer die polisie het hom eers ’n uur ná hul aankoms van ’n lasbrief voorsien.
Hierop het De Beer gesê: “Volgens wet mag die polisie slegs ’n plek sonder ’n lasbrief ondersoek indien die polisiebeamptes redelike gronde het om te glo dat die persoon wat bewyse kan lewer – met verwysing na ’n misdryf wat gepleeg is of vermoedelik gepleeg is – op die perseel is.” Die rede hiervoor is om dié persoon te ondervra en ’n verklaring te kry.
Art. 11 van die Dwelmwet bepaal dat polisiebeamptes sonder ’n lasbrief ondersoek mag instel indien hulle glo dat die saak belemmer sou word as hulle nie onmiddellik optree nie en dat ’n landdros dit in elk geval sou uitreik.
Die lasbrief wat aan Bohemia uitgereik is, magtig die polisie om almal op die perseel te deursoek.
De Beer het egter daarop gewys dat ’n fisieke ondersoek van iemand se privaatdele net toelaatbaar sou wees indien daar ’n redelike suspisie is dat dwelms op daardie wyse versteek is.
Na aanleiding van talle bewerings van hardhandige hantering en onnodige gebruik van geweld deur die polisie het De Beer gesê ingevolge art. 27 van die Strafproseswet is die gebruik van geweld slegs geregverdig indien dit nodig is om verset teen te staan.
Dié wet het egter ook die voorwaarde dat ’n verbale versoek eers gerig moet word.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |