|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Foto: LULAMA ZENZILE
Kampus
Tukkies veg terug teen Maties, ander uitslae
19/02/2008 10:02:09 AM - (SA)
’n Ongelooflike terugvegpoging deur die rugbyspan van die Tukkies het gisteraand verseker dat die FNB Varsitybeker-reeks op ’n hoë noot afgeskop het.
Nadat dit ’n lang tyd gelyk het of die Maties die stryd in die Danie Craven-stadion op Stellenbosch verspot maklik sou wen, het die Tukkies eindelik wakker geskrik en sterker geëindig.
Die eindtelling was 31-31 nadat die Maties met die rustyd met 19-0 en in ’n stadium met 31-5 voorgeloop het.
Daardie eindtelling was ook amper nie gelykop nie, want Chandre Boshoff het die maklike doelskop om die telling reg teen die einde gelykop te maak vir die Tukkies gemis.
Jaco Peyper (skeidsregter) het egter beslis van die Maties se spelers het te vroeg opgestorm en het Boshoff kans gegee om weer te probeer. Die keer het hy die bal deur die mikke gejaag. Ignick Windvogel, die plaasvervanger-skrumskakel wat die deurslaggewende drie gedruk het, sou dalk trane van hartseer pleks van blydskap gestort het as Boshoff nie met sy tweede poging geslaag het nie.
Die mooiste drie is ook deur ’n Tukkie gedruk toe Gerhard van den Heever (regtervleuel) ’n langafstand-poging afgerond het.
Maar eers was dit net die Maties, Maties, Maties. Tukkies was regtig vrot vir ’n groot gedeelte van die wedstryd en het baie foute gemaak.
As die Maties weer na die video kyk, sal hulle dalk nie kan verstaan hoe hulle verloor het nie.
Hulle het hul eerste drie eers in die 25ste minuut gedruk toe Pieter Stoffberg (senter) ’n puik dwarsskop van sy heelagter, Tiger Bax, uit die lug gepluk en oorgeduik het.
Voor dit het die Maties se afrigter, Chean Roux, die wens uitgespreek dat sy span tog net moet begin afrond, want hy het totale gebiedsvoordeel geniet.
Een van die Maties se spelers wat ’n groot wedstryd gehad het, was Jacobi Adriaanse (vaskopstut). Hy het ’n aandeel in twee drieë gehad.
Hy het ook stewig geskrum en is as die speler van die wedstryd aangewys. Sy stutmaat, Johan Roets, het ook ’n goeie wedstryd gehad voor hy met ’n besering van die veld is.
Puntemakers: MATIES 31 (19) – Drieë: Pieter Stoffberg (senter), Lucian Cloete (linkervleuel, 2), Cameron Peverett (flank). Doelskop: Hennoe Stoffberg (skrumskakel). Strafdoele: Hennoe Stoffberg (3). TUKKIES 31 (0) – Drieë: Gerhard van den Heever (regtervleuel), Henk de Ridder (senter), Eben Joubert (haker), Torsten van Jaarsveld (plaasvervanger-haker), Ignick Windvogel (plaasvervanger-skrumskakel). Doelskoppe: Chandre Boshoff (plaasvervanger-losskakel, 3).
. Die Universiteit van Johannesburg het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) met 35-12 geklop.
Puntemakers: UJ 35 – Drieë: Wesley Delport (2), Wesley Delport, Yannick Wombo. Doelskoppe: Ryno Luus (3). Strafskoppe: Luus (3).
TUT 12 – Drieë: Aubrey Macdonald, Jan-Harm Steenkamp. Doelskop: Braam Pretorius.
. Die NWU-Pukke het die Ikeys met 23-17 geklop.
Puntemakers: NWU-Pukke 23 – Drieë: Corné Meyer, Paul Bosch, Markus Fourie. Doelskoppe: Corné Meyer. Strafskop: Meyer.
IKEYS 17 – Drieë: Matthew Turner (2), Marcello Samsung. Doelskop: Matthew Rosslee.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |