|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Die singende 18-jarige tweeling Lelani en Leandi, oftewel Take 2, wil begin rock, maar vir eers doem-doem hulle nog. Foto: JAN GERBER
ABSA KKNK
Rock ’n roll-passies wink vir tweeling van Take 2
28/03/2008 01:19:02 PM - (SA)
OUDTSHOORN. - Hoe sê AC/DC altyd?
“To those about to rock . . . We salute you!”
Die rockers sal dalk een van die dae die rock-saluut in die rigting van Take 2 begin wys, want dié dans-duo wil die doem-doem vir rock ’n roll verruil.
Ná ’n bêktrêk-vertoning voor ’n handjievol mense by die Huisgenoot-musiekplaas kom kuier die 18-jarige donkerkop-tweeling Lelani en Leandi by Die Burger se joernalistieke fees-vistenk.
Hulle het verlede jaar hul eerste professionele album, Doem Doem Doem, by Rhythm Records die lig laat sien.
Die plaaslike rock-legende Theo Crous het die produksie gedoen.
Dááí Theo Crous, ja. Hy wat kitaar speel vir Springbok Nude Girls en die weird metal-manne K.O.B.U.S!. Hy wat onder andere Van Coke Kartel se debuut-album vervaardig het. Hy met die woord “MAIN” op sy arm getatoeëer.
Hoe het dit gebeur dat ’n rocker soos Theo in Take 2 belangstel?
Lelani en Leandi het saam met Theo se broerskinders sanglesse geneem. Toe hoor hy hulle, nooi hulle na sy huis, beveel hulle om songs te skryf en neem dit op.
Hulle beskryf dié ervaring as interessant.
Theo is een van verskeie mense wat hulle aanraai om in die rock-rigting te beweeg en hul nuwe goed is baie meer rock, vertel hulle.
Die dans-ding was maar net ’n stadium.
En hulle het al ’n band, maar dié kon nie saamkom nie, want hulle het kaartjies vir My Coke Fest gekry en wou nie dié kans misloop nie. Nou moet Take 2 maar die fees met ’n CD aandurf.
Een van die liedjies op die album heet “Stuck up boeremeisie”. Moet dit nie eerder “F-d up boeremeisie” wees nie?
Hulle giggel. Nee, só rof is hulle darem nie. Hulle het die song immers geskryf toe hulle 15 jaar oud was.
“Almal wil weet oor wie die liedjie geskryf is,” sê Leandi. Maar hulle gaan liewer nie sê.
“Elke skool het maar ’n bitch in die skool,” verduidelik Lelani. Sy giggel. “Nee, moenie skryf ek het dit gesê nie! Ek maak net ’n grappie.”
“Stuck up boeremeisie” kan as sosiale kommentaar gesien word. En ja, hulle nuwe songs gaan ook in dié rigting neig. Leandi sê dit “gaan oor die wêreld wat messed up is”.
Dit gaan maar oor “issues in die wêreld”. “Jy kan beter oor issues skryf in rock,” sê Lelani.
Nou watter issues pla vir Take 2?
“Die apartheid-storie nog altyd. Ek sê get over it.”
Leandi noem misdaad. “Ek weet dis cheesy, maar súlke goeters. Maar net normale goeters.”
Hulle maak al musiek vandat hulle tien jaar oud is. Hulle het begin klawerbord speel en gaan hou toe vakansie by hul niggie (wat so oud soos hul ouers is). Daar sing hulle toe karaoke. “Ons kon op die noot sing. Ons het soos Chipmunks geklink wat op die noot sing!” sê Lelani.
Crous wou een van hul vroeë, Chipmunk-opnames as ’n versteekte snit op die album sit, maar hulle kon hom van dié potensiële verleentheid laat afsien.
Ná die KKNK hervat hulle ’n skooltoer saam met hul band. Die eerste gig van dié toer was by ’n laerskool. Vir die kleintjies in gr. 1 tot gr. 3 het hulle met die bêktrêks gespeel, maar vir die hoër grade het die band bygekom. Die laerskoolkinders gaan toe mal en begin ’n moshpit. “Hulle het ons aangeval ná die tyd,” vertel Lelani. Hulle is deur die kinders omsingel en die klanktafel is bestorm.
Die meisies vertel dat dit maar moeilik is om ’n staanplek in die musiekbedryf te kry.
“Mense misjudge ons - hulle dink ons neem dit nie ernstig op nie,” sê Lelani.
“Dis omdat ons so jonk is. Gelukkig is ons nou 18,” voeg Leandi by.
. Take 2 is vanoggend om 11:30 en môre om 12:00 by Hunter’s Den te sien en môre-aand om 18:30 by die Hap en Tap Feeskasteel.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |