|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
ABSA KKNK
Min mediese voorvalle
26/03/2008 11:58:12 AM - (SA)
OUDTSHOORN. - Terwyl feesgangers redelik gereeld deur mediese personeel op die Absa KKNK vir hitte-uitputting behandel moet word, is daar tot op hede geen ernstige voorvalle aangemeld nie.
Me. Miemie Pyper van Ambu 911, wat by die gesamentlike operasionale sentrum gestasioneer is, het aan die feeswoordvoerder gesê daar was tot dusver 10 voorvalle van pasiënte wat ineengestort het. Dít was hoofsaaklik weens bloeddrukprobleme, bloedsuiker wat val en hitte-uitputting.
Daar was ook twee mense wat epileptiese toevalle gehad het, twee wat vir beenbreuke en vyf wat vir asma-aanvalle behandel is, asook twee motorongelukke wat as “nie ernstig nie” beskryf is.
Volgens me. Paula Schoeman, feeswoordvoerder, het hulle nog min gevalle gehad van kinders of jong mense wat te veel drink.
“Baie kinders drink, ja,” het sy erken.
En as hul voorgekeer word, is hul eerste reaksie gewoonlik: “Moet net nie vir my ouers sê nie.”
Beheer is oral baie goed, het sy vervolg, maar ouer maats koop drank vir jongeres.
“Ouers moet bewus wees hiervan en nie dink hul kinders is engeltjies nie. Kinders is slim. Hulle kry drank in die hande,” het sy gesê en bygevoeg dat dit nie eie aan die Absa KKNK is nie.
Me. Anne-Marie Nortjé, hospitaalbestuurder by die Klein-Karoo Medi-Clinic, het gesê tans is hulle redelik stil ná ’n redelike besige naweek.
Volgens Nortjé het hulle ’n paar voorvalle van hitte-uitputting en hoofpyne behandel. “Dis gewoonlik nagevolge van die vorige aand.”
Volgens me. Michelle Viljoen, streekbemarkingsbestuurder van Medi-Clinic Wes-Kaap-streek, onderskat mense die hitte en drink hulle heeltemal te min water. “Feesgangers moet onthou dat as hulle drink, hulle vir elke een drankie twee glase water moet drink.”
Schoeman het gesê mense is welkom om die mediese tent in Voortrekkerweg, langs die biblioteek, te besoek as hulle bekommerd is. “Kom vra eerder raad voor iemand probleme ondervind.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |