Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
685 dae tot afskop
2010
WEER » Kaapstad 12º/16| Worcester 13º/18| George 12º/23| Port Elizabeth 16º/25 Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  


VERSEKERING
Spaar tot 25% by OUTsuranceKliek hier vir motor-, huisinhoud- en besigheidsversekering en ons bel jou terug.
Vir André G. Nel is musiek deel van alles wat hy sê en alles wat hy doen. Foto: LIZANE LOUW
Vir André G. Nel is musiek deel van alles wat hy sê en alles wat hy doen. Foto: LIZANE LOUW
ABSA KKNK
Laat André G. Nel jou nou ’n ding of twee vertel
26/03/2008 12:24:54 PM - (SA)

OUDTSHOORN. - Die sanger André G. Nel is gekant teen konformering, sy hardste les in die musiekbedryf was dat hy nie sy idols persoonlik moes ontmoet nie en hy is ’n uitgesproke voorstander van oor­spronk­like musiek.

O, en een van sy liedjies het ’n vrou van selfmoord gered.

Die plek: La Dolce Vita-restaurant, so neffens ’n soesji-sjef en wat waarskynlik slegs as ’n vistuin beskryf kan word.

André G. Nel, wat ’n grafiese ontwerper is wanneer hy nie sing nie, sit met ’n pakkie Aspen (vir die sinusitus wat dreig-dreig om hom te oorrompel) en ’n pakkie Lucky Strike Lights (“dit help seker nie vir die sinus nie”) waaruit daar van tyd tot tyd ’n sigaret geneem word.

Hy het ’n rowwe nag van deurnag aan ’n projek werk agter hom.

Die “G” staan vir Gerhardus en dit is ingesluit omdat daar ’n ander sanger is met die naam André Nel. “Ek dink hy’s ’n gospel-sanger.”

Langs Nel, so half uit my sig versteek deur ’n lastige Captain Morgan-vlag, sit sy agent, David McLellan.

Nel is vanjaar by die fees met sy produksie André G. Nel – Wegkruip tussen Lyne.

“Ek het net (die vertoning) ingeskryf vir myself. Ek het eintlik besluit ek gaan nie weer fees toe kom nie, want dis te duur. Maar toe word my produksie goedgekeur en ek glo alles gebeur met ’n rede.” En nou is hy op Oudtshoorn.

Hy is onlangs vir ’n Sama benoem (vir die beste volwasse kontemporêre album in Afrikaans) saam met swaargewigte soos Steve Hofmeyr en Chris Chameleon.

’n Aangename verrassing is ’n goeie beskrywing van hoe hy hieroor voel. Maar sy voete is stéwig op die aarde.

“Ek dink in ’n sekere stadium soek jy fame. Maar ek is nou 35 en daar’s ander dinge wat belangrik is. Dit sal seker lekker wees om op straat herken te word, maar dis nie my aim nie.”

Nou hoe het dié man, wie se album in wese sewe jaar in the making was (hy moes eers genoeg geld bymekaar maak om dit behoorlik te doen, want hy erken ruiterlik dat daar ’n perfeksionis in hom skuil) in die musiek beland?

“Dit was eers ’n sideline. Dit het my gehelp om te fokus toe alles wat moontlik kón in my lewe verkeerd gegaan het.

“Toe begin ek skryf. En ek vind daar is ’n gehoor en die reaksie is positief.”

Sy formele opleiding bestaan uit gr. 4 aan Unisa (klavier) en hy kan nie verduidelik presies hoekom hy in die musiekwêreld beland het nie, maar “musiek is deel van alles wat ek sê en doen”.

“Ek skryf notas. Die hele tyd. Ek sal 03:00 die oggend wakker word en iets neerskryf.”

En dié notas word soms songs.

“Ek skryf gewoonlik by my ma-hulle. Ek bly in ’n kompleks in Pretoria en ek kan nie daar skryf nie. As jy regtig meegevoer raak, dan wil jy mos harder speel, maar ek kan dit nie daar doen nie.”

Hy hou van die uitdaging van oorspronklike musiek: “Ek kan nie verstaan hoekom mense ander mense se musiek doen en dit dan net soos hulle doen nie. Tori Amos doen covers goed - sy maak dit haar eie.” (Op sy album is net een cover - Louis van Rensburg se “Voshaarnooi”. Die res is oorspronklike materiaal.)

Die gesprek vat ’n onvermydelike afdraai na al die plakkate van nuwe kunstenaars wat die feesterrein vol is.

“Hoe staan mens uit tussen al die posters? Die mense klink vir my almal dieselfde. Ek wil nie bitter en venynig klink nie – elkeen doen sy eie ding - maar ek het my persoonlike voorkeur. Elkeen het.

“Toe ek my album opgeneem het, het ek mý identiteit as musikant ontdek.”

Êrens langs die onderhoud-pad word Foundry Premium Cider bestel.

Op dié betrokke album is ’n lied, “Jy’t my naam vergeet”, ’n melancholiese ballade oor verlies.

McLellan vertel van ’n vrou wat aan hom ’n e-pos gestuur het oor hoe dié lied haar lewe gered het. Sy was op die punt om selfmoord te pleeg toe sy “Jy’t my naam vergeet” drieuur die oggend op RSG hoor en daarteen besluit het.

Wat ’n besonderse pluimpie is, maar hoe hou jy dan jou voete op die grond? “Ek gun myself min tyd om na te dink oor komplimente. Ek is bang ek kry ’n groot kop.”

En as hy nou een les moet identifiseer wat vir hom die moeilikste was om te leer?

“Ek moenie my idols persoonlik ontmoet nie. Die persoon in lewende lywe is nie die persoon wat jy op die CD kry nie. Dit moet gaan oor die musiek. Hmmm, dís nou redelik eksistensieel . . . ”

Nog iets waaroor hy sterk voel (“skryf dit neer”), is individualis­me. “Dis ’n stryd tot die dood toe. Dis vir my verskriklik belangrik. Konformering is uit.

“Ja, leer uit ander mense se foute, maar volg net jou instink.”

Die laaste slukkie van die tweede Foundry word geneem, nóg ’n Lucky Strike word uitgedoof.

Die gesprek staan einde se kant toe.

“Ek het met my album geleer thatI can do it. I am a singer and an artist. En dit het my 35, néé, 34 jaar geneem om te besef.”

. Sien André G. Nel – Wegkruip tussen Lyne vandag 18:30, môre 21:00, Vrydag 18:30 en Saterdag 14:00 by die Laerskool Noordsaal. Kaartjies kos R65.

    
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Internasionale Lotto
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |