|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Frederick Isaacs (15) en Denzil Koopman (15) probeer om met hul stilswye feesgangers se beursies oop te maak. Foto: JAN GERBER
ABSA KKNK
Stilte spreek tussen luidrugtige straatmusikante
26/03/2008 11:57:47 AM - (SA)
OUDTSHOORN. - Op al wat sypaadjie is, sit hulle. Met koeldrankblikkies as kitare en oop tuitbekkies waaruit liedjies stroom. Voor hulle is ’n kartondosie vir welwillende feesgangers se los sente.
Die meeste feesgangers stap egter verby, asof salig onbewus van die “straatmusikante”.
Maar wag, hier’s iets anders.
Feesgangers wat in Baron Van Reede-straat af stap, gaan staan, kyk weer, en glimlag. Beduie na ’n kartonbordjie.
Daarop staan: “Tenminste (sic) bly ons stil!!!”
Frederick Isaacs en Denzil Koopman, albei 15, het besluit om hul stilswye in te span om ’n geldjie te verdien.
Dié duo is duidelik gepas vir dié rol. Op die vraag of hulle geld kry, knik Frederick net. Op die vraag of hulle baie geld kry, skud hy sy kop.
Denzil uiter darem later dat hulle die vorige dag R32 met hul avant garde-weergawe van Simon en Garfunkel se “Sound of Silence” verdien het.
Nou waar het hulle dié idee gekry?
“Self uitgedink,” sê Denzil.
En hoekom?
“Hulle raas te veel,” sê Denzil, met ’n effense kopbeweging in die rigting van hul luidrugtige bure wat uit volle bors basuin: “Dis lekkerrrr by die kunstefe-e-e-es!”
Die meer luidrugtige kunstenaars se kartondose het ooglopend minder muntstukke as die skuimplastiek-koppie van Frederick en Denzil.
Mnr. Braam Nieuwoudt van Pretoria is een van die min mense wat gevoel het dié stille vertoning verdien ’n ou geldjie. “Hul plakkaat is briljant - baie snaaks! Al die ander raas en sing.”
’n Kakie-geklede afgetrede joernalis uit België, wat nie sy naam wou noem nie, het aan Die Burger gevra wat hul plakkaat beteken en sy kop in verslae verwondering geskud op die antwoord.
“Dit is baie vreemd vir ons. Goed soos dié is baie ongewoon in ons land. Ons het nie kinders soos dié in ons land nie.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |