|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Betty Jantjies, oftewel Ma Betty, van die toeriste-kultuurstat in die Oudtshoornse buurt Bongolethu, “choreografeer” hier die voorbereiding van ’n tradisionele Xhosa-maal met Cetyiswa Gcabile (in rooi) en Joyce Mabalo wat haar bystaan. Foto: LIZANE LOUW
ABSA KKNK
Xhosa-bier en kultuurkos
25/03/2008 12:27:18 PM - (SA)
BONGOLETHU. - Vir die kombuisbase by ’n kulturele Xhosa-kostoerisme-venue hier aan die buitewyke van Oudtshoorn is sake op ’n naaldpunt.
Enersyds loop dinge wel op al ses swartpot-silinders, is die kroegyskaste vol en staan die spinasie welig op die werf. Andersyds het slegs ’n handjievol besoekers hul pad gevind tot hier by Ma Betty’s Cultural Village - skaars ’n rugbyspan se mense sedert die Absa KKNK Vrydag begin het.
“Ons is bietjie teleurgesteld,” vertel me. Betty Jantjies, baas van dié kultuurplasie.
“Ons het boonop vrouens bygekry om te kom help en al ons kos is vars,” sê Ma Betty, soos sy ook bekend staan.
Ten minste tel ’n sangoma onder die beleggers in dié projek. Dus sal slimgeld dalk sê dat hulle tog die wa deur die drif sal trek.
Dié 62-jarige, veeltalige Ma Betty het haar ondervinding voor die kospotte van “die Roomse vaders” opgedoen toe sy vir plaaslike kerklui, hoofsaaklik van Duitse afkoms, schnitzels en ghoelasj gemaak het. ’n Hele 25 jaar lank.
Toe breek sy weg en in 2003 het die kultuurstat oorkant die Bongolethu-polisiekantoor sy beslag gekry. Nou het sy die schnitzel-tuig neergelê en maak sy umnguso (mielies), vleispotte of umxhaxo (pampoen met mielies).
“Dit likes hulle ook,” sê sy terwyl ’n rif sweetpêrels tussen haar oë uitslaan.
Uitbreiding aan die stat duur voort en daar is reeds besluit op wie eendag die “pappa” sal wees wat buite die beeskraal sal sit en lobola beding - toeriste ter wille. “Hy kom van die Oos-Kaap, want hy moet ’n Xhosa wees, nie sommer ’n Xhosa-Xhosa nie,” verduidelik Ma Betty in die rondawel-eetplek.
Die vorige nag het die kroeg heelwat klante gesien.
Al die Xhosa-bier is opgedrink. “Dit was sommer die mense van hier (Bongolethu),” verduidelik sy.
Buite wei “4x4”, die skilpad, en Ma Betty se ferm hand gebied haar handlangers om elke draai van die klein landgoed.
’n Vrou met ’n lepel so groot soos ’n roeispaan skink eers vir haar ’n blikbeker water.
Die vlamme staan kniehoog in die kookkol.
Ook mnr. Lizo Dani, projekbestuurder en belegger by die projek, is optimisties dat nuuskierigheid en honger meer mense na dié dele sal bring. In die verlede het Ma ’n stalletjie by die feesterrein gehad, nou het hulle geïntegreer by die fees, verduidelik Dani oor hul buiging op die feesprogram. (Waar dit as Ma Betty’s Cultural Village aangedui word).
Ma Betty is getroud met ’n Xhosa-man met die naam Zwandile Mpondo. Dié se naam is egter jare gelede na Albert Jantjies verander ter wille van ’n nie-Xhosasprekende werkgewer. Sy praat Afrikaans, Engels, Xhosa, met bietjies Zoeloe, Sotho en Duits.
Vir Ma Betty en haar span is vanjaar se fees egter ook darem nie net werk nie. Hulle het al ’n draai by Steve Hofmeyr en ’n vingerete gemaak.
Van Steve het sy gehou. . .
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |