|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() David KramerFoto: BRENDA VELDTMAN
ABSA KKNK
David Kramer se sjarme steeds daar
24/03/2008 11:51:32 AM - (SA)
DAVID KRAMER kan maar. Dis nou ’n jaar of wat sedert hy op die fees te sien was, maar sy besonderse sjarme – as ’n mens dit nou so kan noem – is steeds daar.
Die bene wat bokspring, boude uitgestoot en aan’t wikkel – dit alles terwyl hy die kitaar tokkel. En hy is daar om sy gehoor te please.
Daarom sing hy altyd ook sy ou-ou treffers, al is hy eintlik vanjaar hier om sy nuwe CD, Hemel en Aarde, bekend te stel.
Die orkes het ’n paar nuwe gesigte, maar die ou getroues is steeds daar om die basis te gee. Die Karoo-blikvioolspelers en so aan is, helaas, nie meer daar nie, maar nou met ’n properse violis, Piet de Beer speel ’n kernrol, veral in die nuwe lied, My bloed is ’n snaar.
Hierdie is in styl seker die lied wat die verste wegbreek van sy gewone klank – ’n tango in sigeunerstyl waarin die hele orkes sorg vir ’n voller klank. Vreemd genoeg is dit geïnspireer deur ’n Boesman-gedig. Smaak kan dalk verskil of die musiekstyl pas.
Maar getrou aan die titel Hemel en Aarde is die liedere meer geestelik, so iets soos plattelandse gospel. Dit werk goed – al het die klankmanne in een lied die Sonskynsusters darem te hard laat ondersteun.
Inhoudsgewys het ek die meeste van Die verlosser gehou – ’n ballade in Kramer se ou styl: ’n storie met ’n kinkel in die stert. Dit handel oor ’n man wat sing en dans vir reën, maar ’n prys vra – die mooiste meisie in die gemeenskap.
Daar is soms die gebruiklike onderliggende weemoed, maar Kramer het gesorg dat die mense gelukkig huis toe gaan. Hy het die gehoor aan’t sing en handeklap gehad. En ná ’n bulderend baldadige Ek kom huis toe as toegif was die gehoor op sy voete.
Daar is net een David Kramer – en dié keer het hy die slaap afgeskud om self sy tantieme te kom verdien.
Braam Muller is die oud-kunsredakteur van Volksblad.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |