|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() ABSA KKNK
‘Sigeuners’ trek agter feeste aan
24/03/2008 11:51:17 AM - (SA)
AL lui hul “volkslied” “dis ’n R10 hier en ’n R20 daar, ooo dis lekker by die KKNK”, sê ’n groep bergies wat van fees na fees trek, vanjaar se fees behandel hulle nie goed nie.
“Ons kry net ’n R2-tjie of ’n R5-tjie en toast-broodjies. Seker 90% van die mense oordeel ons, daar word op ons gespoeg en ons kry gereeld klappe,” sê Carlos (24), terwyl hy vroegoggend uit ’n papsak sy foamalite-beker volmaak.
Dié groep feessigeuners ontmoet mekaar dikwels ná jare op van die Skulpiesfees op Jeffreysbaai tot die Kersiefees op Ficksburg.
Danie (39) vertel opgewonde van verlede jaar se fees waar hy ’n R600-kitaar van een van die kunstenaars ontvang het.
“Iemand uit die gehoor moes kitaar kom speel, toe tokkel ek lekker, want ek het ’n paar doppe in en toe koop Steyn Fourie vir my ’n kitaar. Ek het hom nou nog.”
Oom Dries (56), wat lank gelede ’n afvalmetaalonderneming asook ’n sex shop gehad het, pronk op die fees met ’n mussie op sy kop waarin ’n pers volstruisveer penorent staan.
Sy vermoë om sy gesig in die onaardigste uitdrukkings te vertrek, verseker nie net gewildheid onder feesgangers nie, maar hy word met gratis drank beloon. Sy Saterdagaand in die wyntent was dus ’n goeie een.
Karen Lancaster (48), wat net Engels praat, maak dit van die begin af duidelik sy was ’n professionele saloneienaar op Parys en Vishoek, asook in Johannesburg.. “I was a lanie,” sê sy.
Sy vertel herhaaldelik van ’n vrou wat op ’n dag by die salon ingekom en vir 50c gebedel het.
“Ek onthou goed ek het toe gesê ek wil nooit so wees nie, maar hier sit ek nou.”
In haar tien jaar sonder huis of haard het sy die slegste van die treklewe gesien en is sy al drie keer verkrag.
“They knocked my man out and raped me.”
Bacchus blyk te blameer te wees vir waar dié randfigure van die samelewing hulle bevind.
“Ons is maar verlore skape wat mekaar gevind het. Soos elkeen van ons hier sit, is ons stukkend.
“Ons is mos die skuim van die aarde, ons pas nie meer in die samelewing in nie.”
Freddie (35), ’n voormalige Bybelskoolonderwyser in Die Ark op Faure wat na straatkinders omsien, het sy jarelange vriend Riaan (38) ná 14 jaar hier op die fees raakgeloop.
“Ek is so bly om te sien hy lewe nog en ek lewe nog, want die outies maak jou oud voor jou tyd.
“Die lewe op die pad is soos ’n nikkerbol, hard maar lekker. Ná die fees gaan dit éérs weer baie hard wees.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |