|
|||||||||||
|
![]() Riaan VismanFoto: JAN GERBER
ABSA KKNK
Riaan wil talent graag ontgin
24/03/2008 11:52:49 AM - (SA)
OUDTSHOORN. – “Al bereik ek fame en fortune, gaan ek humble bly.”
En hy gáán terugkom Oudtshoorn toe en hy gáán terugploeg in die gemeenskap wat hom gemaak het wie hy is, sê die akteur Riaan Visman ferm.
Dié Oudtshoorniet is op die Absa KKNK te sien in die kinderteaterstuk Aboreta, die Heks met die Groen Hare en Die Keiser.
“Ek wil terugploeg in die gemeenskap. Ek wil uitreik na ons jeug – en ons kleuters,” vertel hy ná die eerste opvoering van Aboreta gisteroggend in die Onderwysgebou.
“Ek raak baie nostalgies,” sê hy oor die dorp wat die vlam van ambisie in hom aangesteek het, maar hom ook die belangrikheid van harde werk geleer het.
Hy het in Bridgton grootgeword, “onder die hotel”, en dít was nie met ’n goue lepel in die mond nie.
Hulle is agt kinders. Sy pa was werkloos en toe Riaan in gr. 8 was, het sy ma haar werk verloor. “Ek stres toe oor dit.”
Maar hy het skouer aan die wiel gesit en hard gewerk. Hy vertel hoe hy een aand by kerslig in ’n kamertjie vir ’n biologietoets moes leer. “My ma het vir my koue tee gebring.”
Hy slaag toe dié toets met 90%, vertel hy trots.
Dit is gebeure soos dié wat vir Riaan die waarde van die ondersteuning van die mense om hom geleer het, en nou wil hy een van dié mense wees.
Hy beplan om in Junie na Oudtshoorn te kom vir ’n werksessie vir jongmense “met ambisie” wat in toneelspeel belangstel. Hy wil dan ook ’n produksie op die been bring. “Dit gaan stories uit die gemeenskap wees, en nie ras- of kleurgebonde nie.”
Tans gee hy klas aan die Northlink-kollege in Panorama. Hy meen hy beskik nou oor die vermoë om sy kuns aan ander te leer.
En hy is vol lof vir dié by wie hy sy kuns geleer het.
Hy het deelgeneem aan ’n produksie by die Hoërskool Môrester onder leiding van mnre. Ronnie Burton en Glenn April.
“Dít het die akteur in my wakker gemaak.”
Hy het daarna, terwyl hy nog op skool was, aan ’n woordkunsproduksie op die KKNK deelgeneem. “Ek het besef die verhoog is my plek.”
Die Universiteit Stellenbosch was volgende, en Riaan praat met groot bewondering oor die mense wat hom gehelp het om sy talent te slyp. “ ’n Regisseur soos Marthinus Basson – groot name wat my ’n bietjie vasgevat het. Antoinette Kellerman het my geleer van stemgebruik. Dit is ’n groot ding vir haar.”
In 2004 het Riaan afgestudeer en die jaar daarna in sy eerste professionele produksie, The Birds deur Roy Sargeant, in die Kunstekaap gespeel.
Hy het so met die tyd ’n “passie en liefde vir kinderteater” ontwikkel. “Gaerin Hauptfleisch het my geleer van kinderteater. Dit is belangrik dat kinders van kleins af aan teater blootgestel word. Dit is belangrik dat lesse op skouspelagtige wyse geleer word,” sê hy.
En ja, voeg hy by, daar is maar min akteurs wat in kinderteater belangstel. Nie net moet hulle self die stel bou nie, dit is ook harde werk om kinders die hele tyd te boei.
Hy besef die waarde van die KKNK vir die gemeenskap wat hy liefhet.
“Omdat die fees deel van Oudtshoorn is en hier baie talent is, moet die plaaslike talent gebruik word. Oudtshoorn is honger vir die kunste.”
|
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |