|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Laurinda HofmeyrFoto: LIZANE LOUW
ABSA KKNK
Laurinda Hofmeyr se musiek ‘moet siel hê’
24/03/2008 11:52:58 AM - (SA)
OUDTSHOORN. – “Ek is definitief nie die een wat ’n stadion vol mense gaan aangryp nie,” sê Laurinda Hofmeyr. “Maar ek is happy daarmee.”
In die restaurant waar ons ontmoet kort nadat sy op vanjaar se Absa KKNK aangekom het, smelt sy saam met die ander feesgangers. Geen aanstellerigheid nie. Geen goud en silwer wat klingel nie.
Ontspanne en met haar volle aandag by die onderhoudvoerder, vertel sy dat haar derde album, Reis na die Suide , so pas verskyn het. Haar besoek aan die fees het ten doel om dié album bekend te stel met haar uitvoering, Op reis na die Suide .
“Dis ’n baie lekker proses,” sê sy oor haar passie om gedigte te neem en met musiek nuwe lewe daarin te blaas. “Dit is soos om ’n rolprent van ’n boek te maak.
“Aan die begin sorg ek dat ek ’n interpretasie van daai gedig het. Ek moet voel ek verstaan wat die gedig vir my sê. Ek begin dan om ’n metrum te vind. Ek rap amper bo-oor die gedig.”
Die sanger in die pienk somerstoppie glimlag.
“Dan begin ek met die eerste sin. Om ’n melodie te kry.”
Die melodie kom gewoonlik laaste.
So tussen slukkies Cream Soda en cappuccino deur, en fyn happies aan ’n hoender-en-mayonnaise-broodjie, vertel sy dat sy sorg vir die “basiese vorm” van die liedjie. Dan, tesame met die baskitaar-maestro Schalk Joubert en die perkussiemeester David Klassen, begin hulle klankgestalte daaraan gee.
Volgens haar is dit lekker om woorde toegankliker te maak en ’n ander lig daarop te laat skyn. “Op die ou end is die toets of jy musiek kan maak sonder dat mense weet dit is ’n gedig.”
Sy is nie baie taalvaardig nie, voer Hofmeyr aan, en moet daarom op digters se woorde staatmaak. Sy is hulle ewig dankbaar. “Hulle maak dat ek tevredenheid kry.”
Tog laat haar musiek haar met ’n vraag. “Ek sit heeltyd met die vraag of dit bestaansreg het,” sê sy effens nadenkend. En dan met ’n glimlag: “Dit het, want ek wil dit maak.
“Dit is soos gedigte. Digters dink nie daaraan om geld te maak nie.”
Maar, vervolg sy, hulle is van “kardinale belang”. Dit is húlle wat die vermoë het om die werklikheid tot op die been oop te kerf.
Daar is veral één wie se werke gereeld Laurinda se werke word – die maer man met die groen trui, Breyten Breytenbach. “As ek soek vir gedigte, haak ek altyd by hom vas – die goed wat ek wel verstaan . . . ”
Maar digters wat self musiek maak, soos Gert Vlok Nel, tref haar “die hardste in die maag”.
“Vir my is dit die naaste aan iets outentieks. So, elke stappie weg maak dit beter, maar dit vat weg.”
Dit beteken egter nie dat sy haar bydrae ligtelik opneem nie.
“ ’n Goeie boek wat goed verfilm is, is tog goed op sy eie. Daar ís mos niks nuuts onder die son nie, jy vat wat jy kan kry en maak jou eie ding daarvan.”
Vir Laurinda is die KKNK haar jaar se beginpunt. Sy berei ’n uitvoering vir dié fees voor en neem dit dan na ander plekke ook.
“Dit voel asof jy ’n gehoor opgebou het. Die fees speel ’n belangrike rol.”
Haar musiek is nie tipies van wat meestal op die fees gehoor word nie. Haar musiek “moet ’n siel hê. Dit moet nie generies wees nie.”
Tog meen sy daar is ’n plek vir alles. “Ek kan baie lekker dans op generiese musiek. Dit ís ’n kuns om ’n liedjie aan ’n groot gehoor te stel. My eie ding is ’n klein venue. Intiem. In die donker, weet jy.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |