|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Mynie GrovéFoto: LEANNE STANDER
ABSA KKNK
Dis Mynie se passie om nuwe talent te slyp
24/03/2008 11:53:10 AM - (SA)
OUDTSHOORN. – “Hallo, gorgeous !” groet Mynie Grové borrelend.
Tussen selfoonoproepe en administratiewe reëlings kon sy tyd inruim om te gesels oor die M3-aanbieding op vanjaar se Absa KKNK.
Sy is die ene vriendelikheid wanneer sy in haar rustige gastehuis praat oor dié projek en haar passie om geleenthede vir opkomende kunstenaars te skep.
“Ek is van 1997 die een wat skuins neuk,” verkondig sy oor haar missie om inklusief en verteenwoordigend te werk. “Ek was my hele loopbaan bevoorreg. Ek was op die regte tyd op die regte plek,” vertel sy.
Die afgelope tien jaar probeer sy om die regte tyd en plek vir ander kunstenaars te skep.
“Dis ’n hele ander gevoel. Dis verskriklik exciting as jy nie net op jouself konsentreer nie.”
“Jy moet evolve,” sê sy oor haar gawe om ander te help. “Nie almal is so gebore nie. Ék was beslis nie.”
Sy hou daarvan om die kunstenaars saam met wie sy werk met die hand te kies. Dit is mense wat haar op een of ander manier beïndruk. “Dit is mense wat ’n liefde het vir dieselfde dinge as ek. Dit is mense wat op dieselfde spoed as ek vibreer.”
En kennelik sal dié mense nogal ’n vinnige spoed moet bereik.
Maar sy stel ook hoë verwagtinge aan haar protégés. “I don’t step down to anybody’s level. Hulle moet opkom na mý level en hoër.”
Mynie vind dit vreemd dat musiek waarna baie Afrikaanse mense luister – jazz – nie juis op die fees verteenwoordig word nie.
“Ek wil graag vir alle Afrikaanssprekende mense Afrikaanse musiek laat doen. Afrikaans maak jou African.
“Ek het verlede jaar ’n wilde perd opgesaal,” vertel sy oor die Afrijazz-produksie wat sy in die Oudtshoornse buurt Bridgton aangebied het.
Vanjaar kuier sy en haar span vir die duur van die fees in dié buurt, wat gewoonlik nie juis deel van die groter feesterrein vorm nie. Daar kan feesgangers na lekker lewendige, plaaslike jazz luister terwyl hulle aan skerp geregte smul.
Onder die gaskunstenaars is die Nederlandse groep Boi Akhi en die plaaslike Black Currant. Die Cammillo Lombard Collective sal ook gereeld op M3 se verhoog gesien word. Mynie en Cammillo werk al jare saam. “Al die verskillende teksture van menswees is die goed wat ons bymekaar bring by M3.”
Oorspronklike musiek is vir Mynie belangrik. Al die musiek by M3 is oorspronklike musiek. “As ’n cover gedoen word, móét dit op sy kop gedraai word.”
Mynie “kan nie glo dat mense nie die moeite doen om insluitend te werk nie”. Tog meen sy dit is nie doelbewus nie. “Hulle dink nie daaraan nie.”
Maar hoekom het sy dan daaraan gedink? Sy bly ’n oomblik stil. Glimlag breed en sê: “Want ek kan.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |