|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Bykans elke kunstenaar op die Afrikaanse musiektoneel gaan die MK Kango-Droëstoor vir vyf dae lank in sy fondamente laat bewe. Die musiekgroep, Fokofpolisiekar, kan ook daar gesien word.
ABSA KKNK
Vind die Afrikaans in elkeen van ons
18/03/2008 12:13:08 PM - (SA)
MET die visie van sy hoof- uitvoerende beampte, mnr. Brett Pyper, as rigsnoer, stel die Absa Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met trots sy program vir 2008, wat van 21 tot 29 Maart op Oudtshoorn aangebied word, bekend.
Die huidige identiteit en gehore van die fees is behou, maar daar is terselfdertyd gediversifiseer in ’n poging om nuwe vlakke van gehalte en kreatiwiteit te bereik. Pyper se doelwit om uitwaarts te kyk na die plek van die Absa KKNK in die breër Suid-Afrikaanse samelewing - sodat die fees meer behels as om bloot te sê almal is welkom by die fees - vind sy beslag in die program.
Die omvang van die verskeidenheid en gehalte van die aanbod in toneel te besef, hoef ’n mens net na ’n paar van die name op die lang lys van indrukwekkende regisseurs te kyk: Marthinus Basson (’n Lang dagreis na die nag; Om soos ’n lyk te lê), Jaco Bouwer (Die generaal; Saad; Smag), Gerrit Schoonhoven (Binnelanders buiteweste), Bobby Heaney (Not the Big Easy), Hennie van Greunen (Shirley Valentyn; Breinbliksem; Cirque du Sussie; Dowwe Dolla: Saal 10), Lara Bye (Yellowman), Mike van Graan (Bafana Republic) en Henry Mylne (Paulus).
Benewens die gevestigde en gewilde sterre wat by die fees te sien sal wees - en hulle is álmal daar - kry die dramastudente van die onderskeie universiteite ook ’n kans om uit te blink in die studenteteater-kompetisie, Spat. Die wenstuk word tydens die fees aangewys en op 28 Maart in die Griesselsaal opgevoer.
Pyper meen verder dit is belangrik om vertaling as vaardigheid, kuns en metafoor te ondersoek en ontgin. Die beste voorbeelde hiervan is in die toneelgenre te vind en feesgangers kan uitsien na werke van die wêreld se voorste dramaturge, maar in Afrikaans. Só is daar byvoorbeeld die oorbluffende Long day’s journey into night van Eugene O’Neill (vertaal deur André P. Brink as ’n Lang dagreis na die nag), een van die voorste tekste van die 20ste eeu wat in Afrikaans nuwe betekenis gaan kry by monde van Marius Weyers, Antoinette Kellerman, Stian Bam en ander. ’n Drama uit min of meer dieselfde tydperk is The Maids (vertaal deur Wim Vorster as Diensmeisies) van die Fransman Jean Genet wat op die fees in Afrikaans opgevoer word met Nicole Holm, Martelize Kolver en Petrus du Preez. Die jonger dramaturge kry ook ’n beurt.
Voor haar dood in die ouderdom van 27 het Sarah Kane net vyf stukke geskryf, maar sy het ’n betekenisvolle invloed op die internasionale teatergemeenskap gehad.
Haar stuk Crave (vertaal deur Willem Anker as Smag) handel oor liefde, verlies en die aflegging van hoop en word opgevoer deur onder meer Nicola Hanekom, Erica Wessels en Eben Genis.
Komedie bly nie agterweë nie en die program spog met sommige van die land se gewildste komediante: Marc Lottering (Hallelujah!), Marion Holm (Cirque du Sussie), Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla: Saal 10) en Leon Kruger (Kruger Kook: ’n Resep vir moeilikheid). Feesgangers kan ook uitsien na Bafana Republic met Lindiwe Matshikiza en Wyk 14 met Frank Opperman, geskryf deur Dana Snyman.
’n Aanduiding van die toonaangewende aard van die Absa KKNK is die aantal kunstenaars wat juis dié fees kies om hul nuwe werk bekend te stel. ’n Konsert van David Kramer saam met sy hele orkes is opsigself ’n rare gebeurtenis! Dís egter presies wat op feesgangers wag, asook sy jongste CD, Hemel & Aarde.
Amanda Strydom spog met ’n nuwe album, Kerse teen die donker, wat sy in ’n gelyknamige produksie bekend sal stel. Die immergewilde Lize Beekman het gekies dat die feesgangers die eerste sal wees om die liedjies van haar nuwe album, Sit ’n bietjie langs my, te hoor, terwyl Op reis na die Suide van Laurinda Hofmeyr beloof om ’n langverwagte hoogtepunt te wees.
Bykans elke kunstenaar op die Afrikaanse musiektoneel gaan die MK Kango-Droëstoor vir vyf dae lank in sy fondamente laat bewe. Bed on Bricks, Fokofpolisiekar, Foto na Dans, Orange Stiletto’s en nog vele ander sal hier optree.
Die musiekteaterprogram sorg vir ’n paar verrassings, onder meer ’n operette oor die Afrikaanse sangers Dirk le Waal (Chris Vorster) en Lindie Lief (Diaan Lawrenson), Adriaan Meyer se vertaling van Pieter-Dirk Uys se Appassionata, met Johann Nel en Elna van der Merwe en Dagboek van ’n Swerwer waarin Koos du Plessis se ongetoonsette lirieke musikaal lewe gegee word.
Die feeskunstenaar, Lawrence Lemoana, se uitstalling heet Hierarchies of Men. Die kurator van die fees se visuele kuns, Theo Kleynhans, doen daagliks rondleidings waartydens die uitstallings besigtig en informeel daaroor gesels word.
Klassieke musiekaanbiedings behels ’n besonderse uitvoering deur die pianis Benjamin Fourie van Olivier Messian se reeks Bepeinsings oor die Jesuskind. Fliekflooie kan kies uit sowat drie dosyn dokumentêre, kort- en vollengte flieks, insluitend werk van Darryl Roodt en Dirk de Villiers.
RSG se keur van hoorbeelde dra by tot die woordkuns-program. Die spogaanbieding in hierdie genre is ongetwyfeld ’n splinternuwe, multimedia produksie van NP van Wyk Louw se epiese gedig Raka onder spelleiding van Trudie Taljaard.
Die Burger se Praat Saam-reeks skep ’n platform waar diverse belangegroepe vrylik met mekaar in gesprek kan tree onder die vaandel Die stand van die nasie. Ander gesprekke sal onder meer aspekte van bruin-wees toelig. En dan is daar die !Kuierplek, ’n gesellige plek in die feeskern, langs die rivier, waar die diversiteit in Afrikaans - veral plaaslike Khoi-erfenis - bespreek word deur middel van dans, musiek, kos, uitstallings en storievertelling.
Voeg by dit nog die Skrywersitkamer, dansteater, kinderteater, 4x4-safari’s, historiese wandeltoere, whisky- en sjokoladeproeë, township-toere, tradisionele Xhosa-maaltye, spesiale eredienste en vele ander bedrywighede, en jy het ’n fees van formaat waar elkeen die stukkie Afrikaans in hom of haar kan kom prikkel.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |