|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Kommentaar
MAANDAG AKTUEEL: Tribunaal ’n wolk oor mediavryheid in SA
04/05/2008 08:05:15 PM - (SA)
VERSKEIE lesers het Die Burger ’n oorveeg of twee gegee oor die prominente plasing van Steve Hofmeyr se (sover bekend) tweede fisiek hardhandige behandeling van ’n joernalis van wie se werk hy nie hou nie.
As ek dit reg het, gaan dit nie vir die lesers oor die publikasie van die Hofmeyr-storie nie, maar oor die besluit om dit as die hoofberig op bladsy een van die koerant te geplaas het. Nie alle lesers voel so nie en baie van hulle het van hulle laat hoor via e-pos en SMS’e. Die sensasionele aard van die Hofmeyr-berig was maar een aspek van die besluit om dit so prominent te plaas.
Dit het op die vooraand van Wêreldpersvryheidsdag gekom en hoewel dit kwalik as ’n wesenlike bedreiging vir persvryheid voorgehou kan word, sluit dit tog daarby aan.
Dit het my enersyds laat dink aan hoe gelukkig ons in Suid-Afrika is dat die ergste vorm van gewelddadigheid jeens joernaliste aan die hand kom van ’n bullebak-sanger met ’n ego wat vir niks skrik, en andersyds hoe hy meen (weet?) hy kan wegkom met die openlike intimidasie van joernaliste.
Elders in die wêreld en op ons vasteland is die prentjie natuurlik baie donkerder.
Volgens die Wêreldvereniging van Koerante (WAN) het daar verlede jaar wêreldwyd 95 joernaliste gewelddadig gesterf in die uitvoering van hul pligte.
Dertien van die 95 sterftes het in Afrika suid van die Sahara voorgekom. In Noord-Afrika en die Midde-Ooste het altesame 46 joernaliste die hoogste tol betaal bloot omdat hulle hul werk gedoen het. Die konflik in Irak het die leeueaandeel aan die syfer. Benewens sterftes word honderde joernaliste wêreldwyd in tronke aangehou – talle sonder verhoor en onderworpe aan marteling.
Die VSA, wat hom voorhou as die bewaker van Westerse demokratiese sedes, waaronder persvryheid, het pas ’n joernalis vrygelaat wat ses jaar lank sonder verhoor op die Kubaanse eiland Guantánamobaai deur die Bush-regering aangehou is. Geen aanklagte is teen hom aanhangig gemaak nie.
In Suid-Afrika het ons deesdae rede om nie die grondwetlik verskanste vryhede wat die media geniet as vanselfsprekend te aanvaar nie. Inteendeel, daar is heelwat gebeure wat ons tot onrustigheid en verskerpte waaksaamheid behoort te stem. Met “ons” bedoel ek nie net joernaliste nie, maar die groot publiek ook.
Die vernaamste bron van kommer oor mediavryheid is die ANC se veelbesproke planne om ’n statutêre mediatribunaal te vestig. Die idee het verlede jaar op die regerende party se beleidskonferensie in Midrand ter tafel gekom. Dit is na die nasionale konferensie in Polokwane verwys, waar dit vir “nader ondersoek” verwys is.
’n Mens kry die gevoel dat die partyleiers besef hulle sit met ’n grondwetlike tameletjie, maar nietemin die kans wil waag om te kyk of hulle ’n vorm van beheer oor die media kan toepas.
Dit is ’n misplaaste versugting wat nie tuishoort op die agenda van enige party wat hoog opgee oor die demokrasie nie. Veral nie as dit ’n party is met die soort meerderheid in die parlement soos dié van die ANC nie.
Die post-Polokwane-ANC is ’n populistiese gevaarte wat klaarblyklik vir niks stuit om sy sin te kry nie. Vra maar vir pres. Thabo Mbeki, die Skerpioene, die land se adjunk-hoofregter en die beleërde SAUK.
Ironies genoeg probeer ANC-leiers soos mnr. Kgalema Motlanthe, wat ’n beredeneerd denkende politikus blyk te wees, die media daarvan oortuig dat die idee van ’n statutêre mediatribunaal daarop gerig is om die bestaande selfregulerende meganismes soos die persombudman te versterk. Nè?
Die punt is, die huidige ANC hou nie van die manier waarop hy deur sy eie wispelturigheid en onbeholpenheid in die media uitgebeeld word nie en meen die enigste manier om dit te red is deur die stomp instrument van statutêre beheer. Vergeet al die mooi broodjies wat gebak word oor hoe dit alles in belang van die publiek en die media is.
Natuurlik is die media nie perfek nie. Juis daarom word daar die laaste tyd hard gewerk om die selfregulerende meganismes wat koerante en die uitsaaiwese intern en ekstern toepas, te versterk. Die gebreke word voortdurend aangepak, maar dit is beslis nie van so ’n aard dat die staat kommissars in nuuskantore moet aanstel nie.
Enige idee van die statutêre regulering van veral die gedrukte media behoort gewone burgers bekommerd te hê. Vandaar die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) se veldtog met die tema “mediavryheid is jou vryheid”.
Die werklike keuse voor ons is tussen media wat in ’n vrye, grondwetlike omgewing strewe na perfeksie en waar selfs die manewales van ’n Steve Hofmeyr onaanvaarbaar is en as sodanig uitgelig word, of media vir wie perfeksie bloot die klakkelose napraat is van wat ook al die jongste gier van die maghebbers is. Ons was al daar. Ons mag nie weer daar beland nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |