|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Kommentaar
KOMMENTAAR, 5 Mei: Fifa-blaps
04/05/2008 08:09:37 PM - (SA)
SOOS sake tans staan, is dit teen die wet vir die sokkerbeheerliggaam Fifa om sy eie frase “2010 Fifa World Cup South Africa” te gebruik.
Dié vreemde stand van sake is die gevolg van ’n kennisgewing van die departement van handel en nywerheid wat daarop gemik is om Fifa se handelsregte te beskerm, maar wat uiteindelik só swak geformuleer is dat selfs Fifa se eie gebruik van die kenmerkende embleem vir die toernooi onwettig is.
Doemprofete sal hierdie blaps waarskynlik aangryp as ’n verdere teken dat Suid-Afrika nooit as te nimmer in staat sal wees om ’n doeltreffende Wêreldbeker-sokkertoernooi aan te bied nie.
Selfs al is daar waarskynlik by Fifa ’n stewige dosis ergernis oor die regering se onnodige blaps, het dit gelukkig niks uit te waai met ons vermoë om ’n suksesvolle toernooi aan te bied nie.
Verslae van Fifa en ander organisasies sê ons is goed op koers, nieteenstaande al die uitdagings wat nog wag.
Dit beteken egter nie dat die regering se growwe fout net misgekyk moet word nie.
Dié soort foute duik op ’n betreklik gereelde grondslag op in die skryf van wetgewing en ander regulerende bepalings. Tydens die wetgewende proses in die parlement, sorg dit ook gereeld vir vertragings in belangrike wetgewing wat ons mense ten nouste raak.
Maar sonder doeltreffende wetgewende kapasiteit, is die beste regeringsbeleid nie die papier werd waarop dit geskryf staan nie.
In die Fifa-geval het die fout maar toevallig die openbare oog gehaal omdat dit verband hou met so ’n hoëprofiel- internasionale geleentheid.
Die lompheid wat die onnodige foute meebring is ’n ernstige leemte wat reggestel moet word.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |