|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Kommentaar
KOMMENTAAR, 5 Mei: Motlanthe
04/05/2008 08:08:17 PM - (SA)
DIE uitlating van mnr. Kgalema Motlanthe, adjunk-president van die ANC, dat hy nie beskikbaar is om te dien in die kabinet van pres. Thabo Mbeki nie, is ’n welkome verwikkeling. Volpunte vir hom.
Die rede is nie dat Motlanthe ’n swak minister sal wees nie – trouens, hy sal waarskynlik ’n veel beter minister wees as baie van die ander kabinetslede wat tans onder Mbeki dien.
Sy standpunt moet egter verwelkom word in die konteks van ’n belangrike beginsel wat hier ter sprake is. Met sy vroeëre “opdrag” aan Mbeki dat Motlanthe in die kabinet opgeneem moet word, het die ANC onder mnr. Jacob Zuma se leierskap die Grondwet willens en wetens ondergrawe.
Dít is iets waarteen Die Burger hom nog deurentyd verset het. Met goeie rede, want die regerende party weet maar te goed dat die aanstelling van die kabinet ingevolge die Grondwet geheel en al die prerogatief van die president is. Enige poging om dié beginsel te ignoreer, kom neer op ’n ondermyning van die Grondwet. Dit is ook oorbekend dat baie in die ANC die party sien as die oppergesag in die land, en dat almal wat aan die party behoort, Mbeki en Motlanthe inkluis, hul moet neerlê by die “kollektiewe ontplooiingsbesluite” van die party. Zuma self het dit bevestig dat die ANC belangriker is as die Grondwet.
Te midde van hierdie kommerwekkende denkrigting wat deesdae oënskynlik al hoe meer aanhang geniet, is dit verblydend dat Motlanthe bereid is om sy party teen te gaan oor sy beplande aanstelling.
’n Mens kan maar net hoop dat hy sal deurdruk met sy verset selfs al sou hy, soos die naweek bespiegel is, gedwing word om ’n kabinetspos te aanvaar.
Indien die rede vir sy onwilligheid gaan om ’n respek vir die Grondwet waaroor baie van sy partykollegas nie beskik nie, moet hy dit so duidelik as moontlik stel. Die ANC kort nou ’n leier wat landsbelang bo partybelang of eiebelang kan stel.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |