|
|||||||||||
|
Opinie
DONDERDAG AKTUEEL: Ons het Mbeki-regering te lank vertrou
28/05/2008 08:00:54 PM - (SA)
DIE wrede geweldsuitbarstings teenoor buitelanders die laaste tyd het Suid-Afrika gebyt waar dit baie seer maak.
Was ons dan nie die reënboognasie wat só vreedsaam gedemokratiseer is nie? Die land van Nelson Mandela wat rassisme so suksesvol oorwin het? Die land van apartheid wat as muishond van die wêreld die liefling van die wêreld geword het? Wat oor en oor allerlei pryse en erkennings ontvang het vir die wonderwerk wat ons meegebring het en soveel hoop aan die wêreld gebring het?
Selfs komm. Jackie Selebi is vereer vir die werk wat hy op menseregtevlak by die Verenigde Nasies gedoen het.
Sterker nog, het ons ná Mandela ’n nuwe president gekry wat die intellektueel was en wie se stempel sou wees dat ons die moue moes oprol en die land aan die werk moes kry.
Om hom as president te onderskei het hy Mandela se versoeningsfokus vervang deur die Afrika-renaissance.
Ons was toe almal só besig om ons verbondenheid met die Afrika-kontinent te bevestig, en tereg. Laat ons die kontinent stabiliseer, dan kan ons die vlugtelingestroom omdraai en mense terugstuur na suksesvolle en ekonomies kragtige buurlande en ander wat veel verder weg is.
Dit was die welluidende uitsprake van toe.
Wat betref die feitelikhede van werkloosheid en patetiese dienslewering moes ons hoor hoe die sektorale opleidingsowerhede (Setas) en die vaardigheidsheffings (skills levy) die probleme sou oplos.
Dienslewering aan die “armstes van die armes” is so pateties, moes ons hoor, omdat daar ’n tekort aan vaardighede is.
Altyd reg met ’n antwoord, altyd gereed met ’n nuwe welluidende stel woorde.
Maar, soos dit al gestel is, die woord “water” kan jou nie nat maak nie.
In die mooi woorde het ons gesien hoe ons intellektuele president in warm water beland het met sy MIV- en vigsuitsprake, sy kop-in-die-sand-benadering oor Zimbabwe, sy hardheid selfs teenoor sy alliansievennote en ja, sy simpele obsessie om steeds die ANC-leier te wil wees. Dit het hom in Polokwane duidelik les laat opsê. Met kromgetrekte skouers moes hy die verhoog verlaat ten gunste van die populis Jacob Zuma. Sy eie party het hom en by implikasie ook sy regering verwerp.
En toe kom die moorde op die 42 broers en susters uit Afrika, die aanvalle op die 47 000 vlugtelinge in ons land.
Die 22-jarige Ernesto Alphabeto Nhamwavane word met pangas, messe en klippe aangeval totdat geen lewe meer uit hom kom nie. “Die hond is dood,” skreeu die skare. Hulle steek toe Ernesto se 29-jarige swaer, ’n messelaar uit Mosambiek, aan die brand omdat, volgens iemand in die skare, “hy nie een van ons is nie”.
Die minister van veiligheid en sekuriteit wys sy gesig langsamerhand. Ons het die geweld onder beheer, en talle is gearresteer, sê hy. Pres. Thabo Mbeki word Sondag deur die Sunday Times daarop gewys dat hy liewer sy pos moet ontruim – weens sy powere stilswye en hoofsaaklik sy afwesigheid as leier van die land. Hy verskyn toe op die televisie, maar lyk meer soos ’n wasbeeldjie terwyl hy al hoe meer verbeeldinglose woorde uit sy mond laat kom. Sê Mbeki se broer, die onafhanklike Moeletsi: Die grootste oorsaak van die xenofobiese uitbarsting is die feit dat broer Thabo nie duidelik genoeg in die Zimbabwe-krisis ingegryp het nie. Vergeet daarby nie die voortdurende korrupsie van ons departement van binnelandse sake nie, sê Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge. Dit is hier waar buitelanders hul dokumente kom koop en dan teen Suid-Afrikaners kompeteer om werk en geleenthede.
Mbeki en sy regering is reeds maande gelede in Polokwane verslaan. Hulle moet nou padgee. Die nuwe ANC-leiers moet oorneem sodat ons vars na ons land kan kyk. Ons weet ten minste nou wat ons nie (meer) wil hê nie. Ek dink nie ons sal weer dieselfde Mbeki-geneuk kry nie. Altans, ek glo nie ons sal nie. Ek dink die lesse is geleer. En hierin moet ons wys op die rol van ons burgerlike samelewing wat sy hart en ons kollektiewe skaamte so sigbaar oor die slagoffers uitstort.
Miskien is dit tyd om te sê ons is jammer, ons het te lank die regering met ons demokrasie vertrou. Hy het ’n bedreiging vir ons demokrasie geword, en ons moet ons demokrasie begin verdedig.
Die balans van ons demokrasie lê immers tussen die regering, die privaat sektor en die burgerlike samelewing; elkeen met gelyke verantwoordelikheid. Raas dus maar met jou struggle-toesprake, djou paleishys en djou woerewarra-mouterkar; jy’t in elk geval die struggle lankal vergeet. Vra liewer vergiffenis, sewentig maal sewe.
Leon Wessels haal in sy boek My Regte! Jou Regte? – Kom Ons Praat Kofi Annan heel toepaslik soos volg aan: “Jy kan lief wees vir wie en wat jy is, sonder om te haat wie en wat jy nie is nie.”
. Dr. Titus is die uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |