|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Opinie
VAN ALLE KANTE: Twee halwes is nie een nie
08/05/2008 07:27:38 PM - (SA)
“PRAAT Woensdag?” vra hy deur die oop venster.
“Ons praat daaroor, ja,” antwoord sy en laat die motor stadig vorentoe rol, die ruit wat stadig opskuif.
By die verkeerslig waai sy skrams vir hom in die truspieël, daar waar hy langs die pad bly staan het. Glip dan weg wanneer die robot die ja-woord gee.
Kan nie nou praat nie, dink sy. Kan nie nou dáároor praat nie.
Sy sug en leun haar kop ’n oomblik terug teen die motorsitplek, tydelik gevangene van ’n volgende verkeerslig, rooi-oog-bedonnerd in die Kaapse winterweer.
“Ag jy!” snou sy wanneer sy ook by dié verbyspoed, op pad huistoe.
Sy onthou die brood is op. Oorweeg om maar daarsonder klaar te kom, besef dan ook die katkos is boomskraap – in sickness and in health, in oorvloed sowel as teëspoed, berus sy dan.
Wonder waaroor ons sou praat as ons oor katkos moes praat, dink sy terwyl sy tussen Pick n Pay se rakke rondmarsjeer: háát dit om te lyk soos een wat nie weet waarnatoe nie. Dat sy wel nie eintlik weet nie, tref haar nie dadelik as ironie nie
Sy hou aan met stap, op en af in die smal gange, geïrriteerd met die grootlyf-vroue wat nie op die regte soppoeier kan besluit nie, die vuil, toiingrige studente wat wik en weeg tussen die organiese groentes wat ’n meisie moet beïndruk, op pa se rekening.
Hy is allergies vir katte, besef sy dan. Geen katkosgesprekke nie, dus.
Wanneer sy weer in die motor sit, doem die karwag skielik langs haar op, sy oranje oorjassie skril aan die rand van haar gesigsveld. “Ek het jou nie gevrá om my motor op te pas nie,” brom sy binnensmonds, gee tog die silwermuntstuk deur ’n gleufie vir die man aan. “En ek hoop jy sien ek is moerig,” sê sy vir hom in die wegry.
Tuis wag die kat ongeduldig by die deur. Hy wil sy kos hê, sodat hy kan uitgaan, sodat hy kan gaan kattemaai in die aanddonkerte.
“Gebruik my ook net,” grom sy terwyl sy die kos met ’n ekstra skerp kap van die lepel in die bakkie laat val. “Jy is veronderstel om bly te wees oor my tuiskoms. I am, after all, the one bringing home the bacon, you know,” deel sy die gedierte mee. “Ek is sommer lus en maak nie vir jou oop nie.”
Maar wanneer die kat sy eerste ligte skree by die voordeur gee, gaan maak sy tóg die deur oop. “Weg is jy, hou op raas in my ore.”
Die wrewelrigheid wil nie gaan lê nie. Dalk help ’n dierlike geluid, dink sy en pluk die yskasdeur oop – ’n seker manier om by daardie grootlyf-vroue van Pick n Pay aan te sluit, besluit sy dan en klap dit weer toe.
Al wat oorbly, is om in die skemer op die bank te gaan sit. Sy draai haar bene só dat haar lyf gerig is op die stoel skuins oorkant. “Nou toe,” praat sy hardop, “uit daarmee. Kry dit uit jou lyf uit, praat dit úit.”
Dan sug sy diep en laat weer haar kop, soos vroeër in die motor, terugsak. Waar is die agterdeur tog? wonder sy oor haar eendeur-blyplek.
Die frustrasie van halwe gesprekke, erken sy dan. Sodat halwe gesprekke net sowel kon gebly het. Want twee halwes maak nie ’n hele nie – dis net dit: ’n helfte en ’n helfte and ne’er the twain shall meet. Laat staan nog aanvul.
Besluite moet geneem word, besluit sy dan. Lê dit af – of maak dit heel.
Hmm-mmm. Nie lus nie, maar dis ook nie ’n antwoord nie. Mos ’n sterk meisie, vrou van formaat: I am strong, I am a woman.
Sy trek haar selfoon nader. “Ja, ons praat Woensdag,” tik sy sorgvuldig. ’n Hele praat. As dit moet, ’n hele Woensdag.
Maar dít skryf sy nie.
Send.
fleroux@dieburger.com
Woodstock 9 Mei 2008
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |