|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Opinie
SAKE VAN DIE DAG: Mbeki en Pikoli: ’n Les uit Nederland
08/05/2008 07:25:34 PM - (SA)
DIE Pikoli-affêre, as ’n mens dit so kan noem, het tot dusver ’n fassinerende – maar ook kommerwekkende – kykie agter die skerms van die Mbeki-regering se doen en late gegee.
Vandeesweek het adv. Vusi Pikoli, geskorste hoof van die nasionale vervolgingsgesag, voor die Ginwala-kommissie van ondersoek na sy geskiktheid om dié amp te beklee, die sluier oor sy eie skorsing gelig. Hy het getuig dat pres. Thabo Mbeki hom geskors het omdat hy wou voorkom dat die land se hoogste polisiebeampte, komm. Jackie Selebi, weens dié se beweerde korrupte verhouding met die bendebaas Glenn Agliotti aangekla word.
Dit is onmiddellik deur die hoof van Mbeki se kantoor, dr. Frank Chikane, ontken. Maar dit word bevestig deur die onthulling deur die Mail & Guardian ’n week gelede dat die minister van justisie, mev. Brigitte Mabandla, Pikoli skriftelik opdrag gegee het om sy ondersoek teen Selebi te staak. Enkele dae nadat hy haar daarop gewys het dat sy haar aan regsverydeling skuldig maak, is hy geskors.
Indien dit alles waar is, skilder dit ’n hoogs verontrustende prentjie van hoe die uitvoerende gesag hom om klaarblyklike politieke redes in die verrigtinge van die regstelsel inmeng.
Nogtans moet ’n mens nie alte regverdig wees nie. Kan daar nie omstandighede wees waarin ’n regeringshoof regsoptrede teen ’n hoë funksionaris kan voorkom nie? Al is dit slegs om te keer dat iets nóg ergers gebeur?
Die laaste weke het presies so ’n geval uit die sewentigerjare in Nederland bekend geword. Dit illustreer waar die grens lê. In 1977 het dit uitgelek dat prins Bernhard, eggenoot van koningin Juliana en inspekteur-generaal van die Nederlandse strydkragte, omkoopgeld van die Amerikaanse vliegtuigbouer Lockheed aanvaar het in ruil vir sy invloed om Lockheed se F-16-vegters vir die Nederlandse lugmag te koop. Die destydse premier, mnr. Joop den Uyl, het onmiddellik ’n kommissie van ondersoek aangestel, wat bevind het dat die bewerings waar was. ’n Parlementêre debat is oor die saak gehou, en in die samelewing het ’n ieder en ’n elk sy eiertjie gelê.
Daar is besluit om Bernhard nie strafregtelik te vervolg nie, maar om hom wel van sy amp as inspekteur-generaal van die strydkragte te stroop en hom te verbied om ooit weer in die openbaar in uniform te verskyn.
Dit alles was destyds bekend. Onlangs het die joernalis Anet Bleich egter in ’n biografie oor Den Uyl onthul dat Bernhard ook omkoopgeld van nóg ’n vliegtuigfabrikant, Northrop, aanvaar het.
Erger nog: Den Uyl was van plan om die prins voor die hof te laat aankla, maar Juliana het gedreig om in daardie geval te abdikeer. En kroonprinses (tans koningin) Beatrix het laat weet in daardie geval is sy nie bereid om haar moeder as staatshoof op te volg nie.
Den Uyl moes dus kies tussen twee slegte moontlikhede: om hom in die regsapparaat in te meng en te keer dat Bernhard aangekla word, of om ’n volskaalse staatskrisis uit te lok met gevolge wat ernstige gevolge vir die staatstabiliteit en selfs die demokrasie kon hê. Hy het eersgenoemde gekies en moes daarmee vir lief neem dat Bernhard eintlik slegs oor die vingers getik word. Daarmee het die charismatiese prins, wat al lank gemeen het hy is eintlik bo die wet verhewe, bevestiging gekry dat die wet nie werklik vir die magtiges van die aarde soos hy geld nie.
Is dit in beginsel nie maar dieselfde as Mbeki se beweerde inmenging ter wille van Selebi nie?
Daar is tog sekere belangrike verskille.
Punt een: Den Uyl het Bernhard se oortredings nie probeer wegsteek nie, maar dit in die parlement aan die groot klok gehang. Dat die Northrop-element verswyg is, het niks aan Bernhard se skuld verander nie.
Daarteenoor het Mbeki, sover ’n mens kan agterkom, die besonderhede van Selebi se verhouding met Agliotti steeds probeer verdoesel.
Punt twee: Den Uyl moes kies tussen ’n ernstige oortreding van die demokratiese spelreëls enersyds en ’n staatskrisis van ongekende omvang. ’n Aanklag teen Selebi – immers die polisiehoof – is nie niks nie, maar val verreweg nie in dieselfde kategorie as dié teen Bernhard nie.
Punt drie: Vir Den Uyl was daar geen persoonlike politieke of partypolitieke voordeel in die voorkoming van aanklagte teen Bernhard nie. Inteendeel, in sy eie linkse geledere is dit teen hom gehou, en sy reputasie as linkse ridder het behoorlik daaronder gely.
Daarteenoor het die optrede rakende Pikoli en Selebi te make met die magstryd in die ANC in die aanloop tot Polokwane. Mbeki het Selebi as een van sy ondersteuners in sy magstryd teen mnr. Jacob Zuma beskou, en dus moes hy buite skootsafstand bly.
Den Uyl se optrede wys dat politieke keuses nie altyd tussen spierwit en pikswart is nie. Maar selfs al neem ’n mens dit in ag, val Mbeki se optrede buite elke demokratiese grens.
. Die skrywer is Media24 se verteenwoordiger in Brussel.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |