|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Opinie
KOMMENTAAR, 9 Mei: Mianmar
08/05/2008 07:54:38 PM - (SA)
DIE natuurramp wat Mianmar (Birma) getref het, vra dringende optrede deur noodlenigingswerkers, en nie ’n militêre regering wat agterdogtig huiwer wie hy durf toelaat om te kom help nie.
Veral nie terwyl hulp vanoor die wêreld aangebied word nie, waaronder dié van die Suid-Afrikaanse regering. Elke sekonde wat verbytik sedert sikloon Nargis verwoesting oor dié Asiatiese land gesaai het, sterf daar mense. Die kwesbaarstes is kinders, siekes en bejaardes.
Die militêre junta, wat reeds 46 jaar regeer, word in dieselfde asem as die geïsoleerde Zimbabwe-regime en die kluisenaarbewind in Noord-Korea genoem. Volgens hul idee van regering word demokrasie, menseregte en mediavryheid laag op die prioriteitslys geplaas, soos geïllustreer deur die ystervuis waarmee Boeddhiste-monnike se protesoptogte einde verlede jaar onderdruk is.
Die vernederende behandeling wat die Nobel-vredespryswenner me. Aoeng San Soe Kji, leier van die grootste opposisie in Mianmar, al dekades ontvang, getuig van die generaals se koelbloedige magswellus. Dit verklaar waarom hulle hulself nou die luukse veroorloof om dae te talm in hul besluitneming, terwyl tot ’n miljoen van hul landgenote aan die elemente blootgestel is.
Die drie regerings met die grootste invloed op die junta in Mianmar – China, Indië en Thailand – staan voor ’n uitdaging om die rampslagoffers se lot en die dringendheid van die saak te bepleit.
Die militêre junta, onder leiding van genl. Than Sjwe, moet sy magspeletjies staak en in belang van die honderdduisende Mianmese wie se lewe in gevaar is as hulp nie gou opdaag nie, noodlenigingsorganisasies onverwyld in die Irrawhaddi-delta en ander rampgebiede toelaat.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |