|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Opinie
BRIEWE, 9 Mei: Simonsberg nie enigste sondaar
08/05/2008 07:53:47 PM - (SA)
DIE oud-Dagbreker van Durbanville stel in Woensdag 7 Mei se brieweblad voor dat Simonsbergers hul etos moet uitleef en meer waardige tradisies moet ontwikkel waarop hulle kan trots wees.
Ek reageer op oud-Dagbreker se brief in my hoedanigheid as onder-primaria van ’n dameskoshuis op Stellenbosch.
Daar is beslis ’n alkoholprobleem in Simonsberg en ek stem saam dat die losbandige Simonsbergers se gedrag op Nuweland skokkend en onaanvaarbaar is.
Dit is ook waar dat die tuine soms besaai is met drankbottels en kitskoshouers. Ek stem saam met die feit dat die HK strenger moet optree en ’n goeie voorbeeld moet stel.
Maar, liewe oud-Dagbreker, alkohol is nie net ’n probleem in Simonsberg nie. Daar lê nie net drankbottels en kitskoshouers op Simonsberg se grasperk voor die Withuis nie. Alkohol is ook ’n algemene probleem in ander koshuise.
Ek was al per geleentheid in Dagbreek se vierkant toe daar net so baie drankbottels en kitskoshouers die wêreld vol gelê het.
Ek dink die hele Simonsberg-sage moet in ’n breër konteks verstaan en gekritiseer word. In die twee jaar wat ek in die HK dien, het ons al van die lekkerste skakelings en sosiale geleenthede saam met Simonsberg bygewoon. Ons is altyd gasvry deur hul HK ontvang. Hulle het sover nog elke keer uit hul pad gegaan om sosiale geleenthede lekker te maak, SONDER om enige drank in ons kele af te forseer.
Ons het ook verlede jaar die geleentheid gehad om saam met Simonsberg te Jool. Ons het ’n bedrag van ongeveer R350 000 ingesamel vir liefdadigheid. Sover my kennis strek, is dit die meeste geld nog wat deur twee koshuispare vir Maties-gemeenskapsdiens ingesamel is. Dit was nie altyd maanskyn en rosegeur nie, maar dit was een van my beste Jool-jare óóit op kampus. Sommige manne het waarlik ’n hart vir die gemeenskap.
As HK-lid van ’n groot koshuis weet ek ook hoe moeilik dit is om dissipline in ’n koshuis toe te pas en ek verstaan die situasie waarin Renier Kriek is.
Moet asseblief nie dat een persoon se kommin verstaansbegrip oor Simonsberg vir altyd by jou bly nie. Daar is wonderlike ouens in Simonsberg wat die koshuis se etos en waardige tradisies uitleef. Van verlede jaar se Simonsberg-eerstejaars groet my vandag nog beleefd. Net omdat sommige manne hulself losbandig gedra het, beteken dit nie die ander 240 is kommin en waardeloos nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |