|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Opinie
BRIEWE, 9 Mei: Wie was die meerderes?
08/05/2008 07:52:55 PM - (SA)
GRAAG wens ek te antwoord op die brief van Veritas van Kaapstad (Brieweblad, 07.04) wat my daarvan beskuldig dat ek onwaarhede verkondig. Ongelukkig meld hy/sy nie watter jaar hy/sy ’n junior (wit) offisier was nie.
Veritas, ek raai jou aan om die artikel in die Reglement van Dissipline (RVD) te gaan lees wat handel oor die term “meerdere”.
In die 70’s en 80’s het dit as volg gelui: “Meerdere beteken iemand met ’n hoër rang as jy of iemand met dieselfde rang, maar met hoër aanstelling.” Dan sê dit verder: “Enige persoon wat onderworpe is aan hierdie reglement wat nie ’n blanke persoon is nie, word geag altyd die mindere van die blanke persoon ongeag die nie-blanke se rang.”
Ek verseker jou, vriend (luitenant/kaptein?) Veritas, dit is streng toegepas. Ons het dit aan ons lyf gevoel.
Terloops, ek was ’n adjudant-offisier – en ja, ek is bruin en ek was my sout werd. Veritas, jy klink tipies soos daardie groep wat altyd wil voorhou die dinge het nie gebeur nie, bloot omdat dit jou dalk daardie tyd bevoordeel het.
Ek sou graag vir jou inligting ’n paar voorbeelde wil noem, maar ek gaan liewer volstaan met die feit dat dit wel gebeur het. Anders as wat jy in jou brief voorgee, is dit veel eerder jou oningeligte uitlatings en beskuldigings wat nie vir rasseharmonie bevorderlik is nie.
Jy verydel dit liewer met jou gebrekkige kennis wat jy verkondig.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |