Webwerf   Argiewe   Foto's   Netads 
658 dae tot afskop
2010
WEER » n.a. Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com

  TUIS  

  NUUS  

  MULTIMEDIA  

  SPORT  

  SAKE  

  VERMAAK  

  OPINIE  

  BLOGS  

  FEATURES  

  MOTORS  

  OPINIE  

  SPOTPRENT  

  PEILINGS  


VERSEKERING
Spaar by OUTsuranceKliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
Opinie
DAWIE: Dink wéér voor jy Shabangu toejuig
11/04/2008 09:03:19 PM - (SA)

ME. SUSAN SHABANGU, adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, se uitlating dat die polisie moet skiet om dood te skiet, het mense behoorlik aan die gons.

Met haar woorde “skiet die blikskottels” het sy glo vir haar ’n nuwe bynaam verdien: Susan Shabang-bang. Maar alle grappies eers op ’n stokkie; dis ’n ernstige saak dié.

Luister jy na inbelprogramme en kyk jy na die reaksie van diegene wat hul mening lug in briewekolomme en in blogs, is dit opvallend dat haar uitlating in hoofsaak positief ontvang word. Nou gaan misdadigers uiteindelik kry wat hulle verdien, is die oorweldigende gevoel oënskynlik.

“Ek dink dit is waarvoor elke Suid-Afrikaner al lankal wag!!” skryf Pete byvoorbeeld op www.dieburger.com. “Ek dink dié wat negatiewe kritiek wil lewer, moet besluit wat hulle wil hê vir hulle land . . . Soek jy beskerming en veiligheid, of soek jy iets wilder as die wildtuin waar misdaad soos moord, diefstal en verkragting seëvier?”

“Voorheen Verlig” sê: “Hierdie land het beslis nog ’n paar Shabangu’s nodig.”

Enersyds spreek reaksies soos dié boekdele oor die erns van die misdaadsituasie in die land en hoe siek en sat mense daarvoor is. Wat dít betref, het Dawie die volste begrip.

Daar is egter ook ’n ander en baie belangrike aspek aan dié saak. Ons lewe in ’n regstaat waar die Grondwet die oppergesag is en as sodanig ’n bepalende invloed het op die wyse waarop wetgewing opgestel en toegepas word. In die onderhawige geval het die grondwetlike reg op lewe bepaalde implikasies vir polisiëringspraktyk.

Die Strafproseswet gee polisiebeamptes die mag om in sekere omstandighede op verdagtes te skiet. Natuurlik kan jy debatteer oor of hierdie omstandighede dalk te nou is, in ag genome die misdaadsituasie en die implikasies van die reg op lewe vir sulke wetgewing.

Onder sulke omstandighede sal jy dalk tot die gevolgtrekking kom dat die wet, soos hy tans daar staan, té beperkend is. In só ’n geval moet die wetgewende gesag die wet dan gewoon wysig.

Shabangu het egter nie die omstandighede waaronder polisielede hul wapens mag gebruik, uiteengesit of haar in ’n debat daaroor begewe nie. In ’n onverskillige haelgeweer-benadering het sy die waardes wat in die Grondwet vervat is, eenvoudig vertrap.

Dít bring Dawie by ’n tweede belangrike punt. Shabangu se uitlatings is nie ’n geïsoleerde geval nie. Daar is ’n onrusbarende reëlmaat aan dié soort uitsprake wat spreek van ’n gebrekkige verbintenis tot grondwetlike waardes onder ons leiers.

Mnr. Jacob Zuma se uitspraak dat die ANC belangriker as die Grondwet is, byvoorbeeld, sal in demokratiese geselskap nie gou vergeet word nie.

En dit duik in verskillende politieke partye op. Die DA-raadslid mnr. Frank Martin van Kaapstad is byvoorbeeld nou in warm water omdat hy lede van die gemeenskap na bewering op rassegrondslag aangehits het om huise in Delft te beset. As dit waar is, het Martin klaarblyklik opgetree in weerwil van ons grondwetlike waardes van nierassigheid en die beginsels waarop ons regstaat berus.

Moenie dink dit is net die politici wat hieraan skuldig is nie. Vandeesweek het die Forum vir Swart Joernaliste (FSJ) hom gewend tot ’n siedende aanval op ’n instelling wat geskep is om die grondwetlike demokrasie te verskans: die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Met sy minagtende reaksie op die kommissie se bevinding dat die uitsluiting van wit joernaliste by ’n vergadering van die FSJ ongrondwetlik was, het die voorsitter van die FSJ, mnr. Abbey Makoe, terselfdertyd die waardes van die Grondwet geminag.

Hierdie neiging is onrusbarend. Die Grondwet en die regstaat is nie dinge wat jy die een oomblik koester en vertroetel wanneer dit jou politieke en ander doelwitte pas, net om dan om te draai en dit onder ander omstandighede te vertrap nie.

Konsekwente en ondubbelsinnige respek is die wagwoord, ook wanneer dit jou nie pas nie. Soos mnr. Cyril Ramaphosa, wat in geen geringe mate tot ons Grondwet bygedra het nie, onlangs gesê het: “In tye van emosie en onrus kan ons lus wees om die reëls wat ons so versigtig saamgestel het, op te skeur.

“Maar dit is daardie reëls, en ons toegewydheid om dit te beskerm, wat ons in staat stel om saam te werk om ’n regverdiger samelewing te skep. As ons land geanker word in ons sterk Grondwet en omvattende handves van regte, het ons ’n beter kans om gelykheid, demokrasie en vryheid teweeg te bring.”

Shabangu en andere kan gerus kennis neem. As jy die regstaat en die Grondwet en sy waardes ondermyn, werk jy nie die veiligheid en beskerming in die hand waarna Pete smag nie. Jy is aktief besig om iets te skep wat uiteindelik “wilder as die wildtuin” kan wees, om weer Pete aan te haal.

In dié trant behoort ons onsself af te vra wat die reaksie gaan wees as die polisie volgende keer ’n nagklub op Stellenbosch binnestorm en Shabangu se raad volg. Wat as dit jy of ’n geliefde is wat deur ’n polisielid vir “ ’n blikskottel” aangesien word?

    
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.
VIND
Werksgeleenthede
Gesondheids- produkte
Reis & Verblyf
Eiendomme te koop
Versekering Vir Vroue
Motor & Huis Versekering
Dekor
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek.com
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek.com om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |