|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Opinie
SAKE VAN DIE DAG: Mbeki het demokrasie reeds ernstig beskadig
10/12/2007 12:58:16 PM - (SA)
POLOKWANE staan voor die deur. Aanhangers van die twee grotes, pres. Thabo Mbeki en mnr. Jacob Zuma, val oor mekaar om hul helde se sterk punte aan te prys en ’n ramp te voorspel as die teenstander sou wen.
Objektiwiteit en ewewigtigheid moet ’n mens in sulke beskouings nie verwag nie. Baie is op die spel, en dan is mense nie tot besadigdheid geneig nie.
Gister het iemand vir wie ek andersins hoë agting het, prof. Willie Esterhuyse, juis tot sy groot vriend Thabo Mbeki se hulp gesnel deur te beduie dat Suid-Afrika sy mooi liberale demokrasie kan vergeet as Zuma president word. Heel moontlik het hy reg, maar hy vergeet dat Mbeki die demokrasie in dié land al klaar ernstige skade berokken het.
Maar kom ons neem Mbeki se erfenis behoorlik in oënskou. Wil ’n mens Mbeki se politieke denke behoorlik begryp, is die boodskap van Mark Gevisser se onlangse briljante biografie van die president, moet jy dit verstaan teen die agtergrond van die feit dat Mbeki ’n Afrika-nasionalis is.
Hy is ’n tipiese voorbeeld van wat die militante swart Karibiese sielkundige en filosoof Franz Fanon in sy boeke beskryf, te wete ’n gekoloniseerde met ’n haat-liefde-verhouding teenoor die koloniseerder. (Van alle groepe behoort die Afrikaners dit baie goed te kan verstaan!)
Dit beteken dat hy op ’n sekere vlak die koloniseerder se taal en kultuur bewonder, maar op ’n ander vlak oordrewe negatief daarop reageer. Soos nasionaliste (dink maar aan soveel van ons eie vorige geslag) maar maak, is hy geneig om negatiewe aspekte van sy eie kultuur en gemeenskap te ontken en sigbare verkeerde dinge aan die koloniale erfenis toe te skryf.
In Mbeki se geval kom dit op verskeie terreine tot uiting.
. Ten eerste is daar die MIV/vigskwessie. Uit Mbeki se eie uitlatings kan ’n mens sien dat hy ontken dat swart mense seksueel losbandig kan wees, en dat dít gevolglik nie die oorsaak van die pandemie kan wees nie.
Dus gaan soek hy die oorsaak by armoede, wat na sy mening ’n regstreekse gevolg van die kolonialisme en apartheid is. En daarom kan hy met volle oortuiging verklaar, soos teenoor die Washington Post, dat hy niemand ken wat aan die siekte oorlede is nie.
. In die tweede plek is daar misdaad, dalk die ernstigste enkele probleem in die land. Uit sy nasionalistiese agtergrond is Mbeki geneig om te ontken dat swart mense misdadig kan wees, en dus hel hy telkens daartoe oor om die omvang van misdadigheid te onderskat. Vandaar sy voortdurende onderbeklemtoning van verkragting en ander geweld. Min. Charles Nqakula se berugte stelling – dat diegene wat so oor misdaad kla, maar hul koffers moet pak en padgee – val nie uit die lug nie.
Ja, in die laaste maande het Mbeki effens anders gepraat. Maar sy arm moes eers sowat uit sy potjie gedraai word.
. ’n Derde saak is korrupsie. Omdat swart mense nie korrup is nie, word die voorkoms van korrupsie in Mbeki se oë oorbeklemtoon. En dus word prominente swart Suid-Afrikaners wat hulle aan korrupsie skuldig maak of teen wie ’n prima facie-saak bestaan, oor die hoof gesien. (Die wapenskandaal!)
Wie die gewese ANC-LP Andrew Feinstein se boek After the Party gelees het, sal weet hoe diep korrupsie reeds in die ANC ingedring het. Dié boek laat jou hare rys.
. ’n Saak wat hiermee saamhang (maar wat nie regstreeks met sy Afrikanisme te make het nie), is die wyse waarop flagrante oneerlikheid en onbekwaamheid in Mbeki se onmiddellike omgewing geduld word. Mbeki stel klaarblyklik slegs een vraag: Is jy vír hom of téén hom?
En dus word mense soos komm. Jackie Selebi gehandhaaf en kry me. Nozizwe Madlala-Routledge (en Zuma) die trekpas.
. Onder Mbeki is veel minder klem op die Madiba-projek van versoening geplaas. Die ideologies gedrewe wyse waarop regstellende aksie gejaag en plekname verander word, dui alles op ’n onverdraagsaamheid wat vreemd aan die Madiba-era was.
. Sonder om daarop in te gaan: Mbeki se houding teenoor Zimbabwe pas ook hierin. Robert Mugabe se magsvergrype is vir hom primêr aan die koloniale verlede te wyte.
. Verder het Mbeki die demokrasie reeds ernstig probeer beskadig. Afgesien van bogenoemde kwessies is die wyse waarop hy tans aan die mag probeer vasklou deur die Grondwet te omseil, ’n buitengewoon slegte saak.
Sy gereelde aanvalle op die media, die ANC se geluide oor ’n media-tribunaal, en uitsprake dat die ANC die parlementêre opposisie groothartig “toelaat”, laat ’n mens jou hart vir die toekoms van die demokrasie vashou.
Daarteenoor staan sy uitstekende hantering van die ekonomie, waarvoor hy wêreldwyd tereg hoë lof kry. ’n Ander benadering sou dinge kwaai skeef laat loop het.
Nietemin: Al die spookbeelde oor wat van ’n pres. Jacob Zuma verwag kan word, is moontlik waar. Maar dit maak nie van die Mbeki-dekade ’n geslaagde era nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |